Die Gees help om te verstaan
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 2:10-16
Ek het al baie gewonder hoekom mense nie wil glo nie. Dit is asof God net te vêr vir hulle is om te begryp. Met baie mooi beredenering, wat soms selfs vir ons ook sin maak, “bewys” hulle dat God nie bestaan nie. Ek onthou nog hoe ek in my eerstejaar in die filosofie-klas amper by Kant se denke oor God vasgesteek het. Dit het vir my sin gemaak. Sy denke oor God het ongeveer soos volg geklink: Die mens streef na perfeksie. Hy wil graag beter wees as wat hy nou is. Daarom skep hy vir hom ’n prentjie van ’n perfekte wese waarna hy kan streef en noem die perfekte wese God. Dink mooi hieroor na. Dit kan nogal sin maak.
Hoekom struikel mense oor die hekkie? Hoekom is dit vir baie mense onmoontlik om God te sien vir wie Hy is? Die antwoord is baie eenvoudig: Die Heilige Gees woon nie in hulle nie. Hulle maak staat op hulle eie denke en vermoë en dit is te min om by God uit te kom. 14Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mense kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie kan verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie.
Dit maak sin. Die mens kan nie op sy eie op God se vlak kom nie. God is op ’n ander vlak, ’n goddelike vlak, en dit is vir die mense onmoontlik om daarin te loer en te sien hoe God lyk. Wanneer mense nie die Heilige Gees in hulle lewens toelaat nie, sal hulle eenvoudig nie weet wie God is nie. En dit is nie dat God Hom nie ook aan hierdie mense openbaar nie. Nee, vir seker doen Hy dit, maar daarvoor het jy die Heilige Gees nodig. Die probleem lê dus aan die mens se kant: 14… Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie kan verstaan nie. Hy is die een wie se oë heeltemal toe is vir die geestelike dinge. Net die Heilige Gees kan hierdie dinge vir ’n mens duidelik maak.
Die mens het iemand nodig wat vir God ken om Hom aan ons bekend te stel. Iemand wat reeds by of in God is, sal mos presies weet hoe God se hart lyk. God het geweet dat dit menslik onmoontlik vir ons sal wees om Hom te ken. Daarom het Hy sy Gees vir elkeen van ons beskikbaar gemaak. Aan elkeen wat glo, het God sy Gees gegee en daarom kan ons presies verstaan: 15Iemand wat die Heilige Gees in sy lewe het, sal weet wat om van al hierdie dinge te dink. Hy sal geestelik sensitief wees, al sal die ongelowige mense hom nie verstaan nie. 16Die Skrif sê mos: “Wie weet wat binne-in die Here omgaan sodat hy vir Hom kan sê wat om te doen?” Ons wat sy Gees het, ken Jesus deur en deur.
En tog wonder ek hoekom ek nie altyd by is met kennis van God nie. Ek smag so om meer van God te weet en Hom beter te leer ken, maar soms duik ek in die hek. Hoekom gebeur dit as ek die Gees in my het? Hoekom ken ek God nie so goed nie?
Stadig raak ek bewus van my eie toedoen aan die petalje. Jy sien, die Gees vat jou nie soos ’n gear lever en druk jou in eerste rat en begin dan met jou deur die lewe te jaag nie. Nee, die Heilige Gees trap saggies deur jou lewe en gee vir jou ruimte om te doen wat jy wil. Hy gee vir jou ruimte om self te besluit hoeveel ruimte Hy in jou gaan vul.
Die wêreld raas daar buite en die Heilige Gees praat aan die sagte kant. Eintlik werk alles teen die Gees en ons moet van ons kant af stil word om die Gees te hoor. Ons moet besef dat ons self ruimte moet maak vir die Gees in ons. Ons moet toelaat dat die eie ek eers van die stoel af klim om ruimte te maak vir die Heilige Gees. Dan sal ons die impak van Hom in ons lewe ervaar. Dan sal ons vir God leer ken. Dan sal ons weet wat sy wil vir ons lewe is. Dan sal ons ’n werklike impak in ander se lewe kan maak, want ons ken God en ons weet dit is presies wat Hy wil hê ons moet doen. Alles te danke aan die werk van die Heilige Gees in ons.
Om oor na te dink
Hoor jy die Gees?
Het die Gees genoeg ruimte in jou?
Ken jy vir God?
Kruisverwysing
Gebed
O, Gees, wat in my woon. Baie dankie dat U my meer vertel van God en dat ek sy wil vir my lewe kan ken. Tog, as ek so na my lewe kyk, is dit nie altyd die geval nie. Daarom vra ek uit my hart dat U my sal help om nog meer sensitief te wees vir U stem, sodat ek ’n nog groter impak in die wêreld kan hê. Amen