God se Woord in vandag se woorde

Die Gees is sterk


Wanneer die winter oor Suid-Afrika daal, daal daar ook winter oor die arbeidsmag, want dit is staak seisoen. Mense is baie ontevrede oor hule omstandighede en begin staak om hulle stem te laat hoor. Dit is nie ’n lekker seisoen in ons land nie.

In Paulus se tyd was daar ook opstande en stakings, maar dit was as gevolg van die nuus wat Paulus en sy manne die wêreld ingedra het. 5.. Mense het betogings teen ons gehou omdat ons vir hulle die goeie nuus gebring het. Kan jy glo dat mense in opstand kom oor die evangelie? Ja, hulle was so ontevrede dat hulle die strate ingevaar het en hulle na die leiers gewend het om vir Paulus- hulle stil te kry.

Dit is egter nie ál waardeur hulle moes gaan nie. Daar was baie kere wanneer hulle lewens letterlik in gevaar was. Tye wanneer hulle gedink het dit is nou die einde. Die een krisis na die ander het soos golwe oor hulle geslaan. Gepraat van geslaan! Hulle is fisies geslaan dat die bloed loop. Soos misdadigers is hulle in die tronk gegooi. Daar was baie nagte wat hulle nie eers ’n bed gehad het om op te slaap nie. Baie nagte het hulle ook sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap.

Hulle reaksie op die branders wat die een na die ander oor hulle aangerol kom? 6Tog leef ons rein en opreg. Ons het die regte kennis oor God. Ons is geduldig en ons straal warmte en vriendelikheid uit. Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam. Ons het ander mense regtig lief, sonder dat ons enigiets in ruil van hulle terugverwag.

Wow! Ek wens ek kan ook so sterk wees om te midde van sulke omstandighede met ’n glimlag die volgende oggend op te staan. Ek wens ek kan ook rein en opreg wees en warmte en vriendelikheid uitstraal wanneer die dinge nie loop soos ek wil hê dit moet loop nie. Kyk, as ’n ding mos net ’n stukkie uit sy plek is, fluit my ketel se fluitjie al.

Tog is dit nie hoe God wil hê ons moet leef nie. God wil hê ons moet in alle omstandighede met groot wysheid optree. Al is die mense om jou onregverdig, al vlieg die beledigings heen-en-weer oor jou kop, al doen jy regtig jou bes, maar dis nooit genoeg nie, al maak die ander een se tong jou morsdood, al word jou vryheid gesteel en sit jy in sy of haar tronk, al kom mense in opstand teen jou wat die waarheid vashou, moet ons probeer om rein en opreg en geduldig en warmte en vriendelikheid uit te straal.

Dadelik wil ek self in opstand kom en sê: “Nee, Here, die een gaan ek nie regkry nie. U weet dat ek eenvoudig net te vinnig opstaan en my ketel se fluitjie net te vinnig laat fluit.” Maar God verwag dit gelukkig nie van ons alleen nie. Hy het geweet ons gaan dit nie maak nie, daarom het Hy sy Gees in ons geplaas. Hier is die bevestiging: 6… Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam.

Dis die geheim. Die Heilige Gees is die krag om rein en opreg en geduldig en warmte en vriendelikheid uit te straal. Met die Heilige Gees aan ons kant is dit moontlik. Ons moet net toelaat dat die Heilige Gees sy krag in ons loslaat. As jy kwaad word omdat die omstandighede nie na jou sin is nie en volgens jou onregverdig is, is die Heilige Gees nog nie heeltemal in beheer nie. As jy soos ’n orreltjie begin afgaan en die ander een net so hard terugklap met die tong, as jy die ander sleg sê en hulle afbreek oor wat hulle nou weer aangevang het, is die krag van die Heilige Gees nie eintlik ’n faktor nie.

Kom ons wees eerlik en ons sê dit vir mekaar: Ons almal val een of ander tyd pens en pootjies in die slaggate. Daar kom net ’n onbewaakte oomblik en die vet is in die vuur. Kom ons help mekaar. Kom ons stop mekaar voor ons weer in die gat val. Kom ons vra die Heilige Gees om oor te neem – ook ons emosies. Dan kan ons ook rein en opreg en geduldig wees en warmte en vriendelikheid uitstraal.

Mag dit so wees!

Kliek hier vir die skakel na die teks: 2 Korintiërs 6:1-13

Om oor na te dink

Wat laat jou ontplof?

Waar in jou is die krag van die Heilige Gees nog nie sigbaar nie?

Wat moet jy doen om meer beheer aan die Heilige Gees oor te gee?

Gebed

Vader, ek bely dat ek gedurig in die hek duik. Ek raak kwaad en dan klap my tong. Ek weet ek maak mense seer. Ek wil dit nie doen nie. Ek wil so graag ook rein en opreg en geduldig wees en warmte en vriendelikheid uitstraal. Help dat ek gehoorsaam en te alle tye onder beheer van U Heilige Gees sal wees. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek