Die Gees trek sak en pak in
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 6:1-9
Die Bybel sê wanneer twee mense gemeenskap hê, word hulle een. 16… Hulle sê mos: “As twee saamslaap, word hulle eintlik soos een mens.” Maar dit geld nie net vir die fisiese nie. 17Dit is op geestelike gebied ook waar. As ’n mens jouself vir die Here gee, word julle twee ook soos een. Dit gebeur natuurlik nie liggaamlik nie, maar geestelik.
Soos ’n man en vrou een word as hulle gemeenskap het, so raak jy en God een as jy Hom in jou lewe nooi. Jou liggaam is soos ’n huis met baie kamers. Wanneer jy God as jou Verlosser aangeneem het, nooi jy Hom om in jou huis te kom woon.
Die fout wat ons maak, is dat ons God net in sommige van die kamers toelaat. In sommige kamers wil jy eers op jou eie woon. Here, ons gaan vanaand in die braaikamer wees, maar ek dink dit gaan beter wees as U maar eerder gaan slaap. Of, Vader, ek moet net gou die probleempie met die werknemer of vriend of kind uitsorteer. Ek dink dit sal beter wees as U hier in die woonkamer bly en die TV so bietjie harder sit.
Die voorbeelde klink dalk so bietjie absurd, maar is dit nie wat ons doen as ons soms die guards laat sak nie? Partykeer hunker ons terug na die dae voordat ons die Here leer ken het en wil ons net weer die lewe op die ou manier geniet. Ons wil iewers ingaan, maar voel ongemaklik om God saam te vat, want die grappe is dalk nie altyd bo die belt nie en dalk word daar een of twee te veel gevat.
Tog werk dit nie so nie. Wanneer ons God in ons lewens innooi, kom trek die Heilige Gees in. Sak en pak in elke kamer in. En nee, ons kan nie kies wanneer Hy in watter kamer sy intrek neem nie. Hy is reeds in elke kamer. Paulus sê ook so: 19Het julle dan vergeet dat julle liggaam die blyplek van die Heilige Gees self is? Die Gees bly mos in julle; God self het die Gees vir julle gegee.
As ek so na my eie lewe kyk, besef ek dat die Heilige Gees seker baie keer sy oë moes toemaak vir alles wat in my huis se kamers aangaan. Selfs seker ook sy ore wou toedruk. Daardie teksgedeelte van die Heilige Gees wat bedroef raak spring voor my op…
So wat nou? Ek het al ’n paar keer in die verlede die Gees teleurgestel. Ek weet. Ek is self teleurgestel. Maar om nou in ’n hoekie te wil gaan sit en salk is ook nie die regte ding nie. Kom ons gryp eerder die Heilige Gees se hand en gaan kyk mooi in elke kamer van ons lewe waar daar dinge is waarvan Hy nie hou nie. Kom ons neem ’n groot besem en ’n sagte stoflap en ons maak skoon van ’n kant af.
Vra die Heilige Gees om jou te help. Hy weet presies waar die gemors is en sal jou presies wys wat jy moet doen. Eintlik weet jy reeds wat jy moet doen, want die Gees fluister gereeld in jou binneste. Gaan sit stil en doen moeite om jou huis skoon te maak. Dan sal jy saam met die Gees trots wees. Onthou, 20die Here het baie duur betaal om julle Syne te maak. God moet dus ook trots kan wees op julle liggaam – daarvoor moet julle sorg deur die manier waarop julle julle gedra.
Pas jou liggaam op. Maak die kamers mooi skoon. Maak jou huisie snoesig en lekker vir die Gees om in te woon.
Om oor na te dink
Woon die Heilige Gees in jou?
Het Hy toegang tot elke kamer?
Waar moet jy bietjie skoonmaak?
Gebed
Here, ek nooi U weer in my lewe in. Ek nooi U in elke kamer in. Ek weet daar is nog plekkies waar dit nie heeltemal skoon is nie. Wys dit vir my uit en help my om dit skoon te maak en skoon te hou. Dan sal U ook trots op my liggaam wees. Amen