Die geur van ‘n feel good movie
Ons vriende van die Suid-Kaap kom slaap by ons oor. Hulle was by ’n begrafnis van ’n vriend. Hy was ’n akademikus en het alles met die kop uitgereken. Vir geloof in God was daar nie plek nie, want hy kon met sy empiriese brein eenvoudig net nie daar óm kom nie. Met die aanhoor van sy siekte het die man soos ’n kluisenaar begin leef en homself uit die samelewing onttrek. Tot hy later so swak was dat hy gehospitaliseer moes word.
Ons vriende vertel van ’n gemeente wat hulle oor hom ontferm het en ’n pastoor is aan hom toegedeel om elke dag by hom in die hospitaal te gaan kuier. Hulle het vir hom toestemming gevra om oor God te praat. Aan die begin wou hy niks weet nie, maar hoe meer die pastoor met hom die evangelie gedeel het, hoe aandagtiger het hy geluister. Daar was dae wat hy deur alles geslaap het en soms net met die knik van sy kop saamgestem het. En so, op sy sterfbed, het hy sy Verlosser ontmoet.
Hy is kort daarna weg na ons Vader toe.
Een geloofsgemeenskap met een predikant wat nie anders kon as om hulle roeping om ander van Jesus te vertel, ernstig op te neem nie. Hulle het nie moed opgegee as dit lyk of die omstandighede ongunstig lyk nie. Hulle het nie moed opgegee as dit lyk of dit te laat is nie.
Die begrafnis was in baie opsigte anders omdat hy van ’n baie streng, tradisionele godsdienstige agtergrond was. Verskillende mense moes iets sê. Die pastoor wat die laaste paar dae saam met hom was, was ook daar en was baie gespanne, want sy woorde was soveel anders as die tradisionele. Tog kon hy nie anders as om net die laaste paar dae se storie van die oorledene aan hulle oor te dra nie. Wat ’n voorreg was dit nie om ’n agnostikus, iemand wat eenvoudig nie in die bestaan van God geglo het nie, na die Here te lei.
Sy gesin is nou anders, want ewe skielik word daar christelike kinderliedjies in die huis gesing.
Dit is soos ’n feel good movie. Dit het ’n mooi einde. Dit gee ’n aangename geur af en ons almal wens ons kan ook deel word van so ’n storie. En eintlik moet ons elkeen in ’n klomp sulke movies speel. Ons moet ’n goeie geur in die wêreld afgee. Die wêreld het dit só nodig. Dit ruik nie lekker in die wêreld daar buite nie en die ergste is dat die mense dit nie eers weet nie. Hulle weet nie waarop hulle eendag gaan uitmis nie en die dag as hulle dit gaan uitvind, is dit effe te laat.
Dit is ons elkeen se opdrag. Ons moet ’n aangename geur na die wêreld toe bring sodat ons amper soos in ’n feel good movie ’n goeie einde sal hê. 15Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe.
Om oor na te dink
Watter reuk versprei jy?
Waar in jou wêreld is Jesus se aroma nodig?
Gebed
Vader, dit is so. Die wêreld het ’n aangename geur nodig. Ek besef dat ek die reuk in die wêreld moet gaan uitdra, maar soms is ek bang om my mond oop te maak. Help my om soos die pastoor in die storie hierbo nie my mond te hou nie en ’n goeie geur in die wêreld los te laat. Amen