Die gevolge is anders
Hoor Celeste se wonderwerk-verhaal:
Ek wil getuig van ‘n wonderwerk in ons lewens.
My man, Alex, het in 2008 ‘n groot rugoperasie gehad. Baie suksesvol.
In Desember 2018, word hy weer in die hospitaal opgeneem. Hy kon nie loop, sit, staan of niks nie. Altwee bene het so erg needles and pins gehad, dat hulle letterlik doodgegaan het. Die pyn het hom verswelg. As jy hom in die kar kry, kon jy hom nie weer uit kry nie.
Die neuroloog het die MR-skandering een kyk gegee en gesê dat hulle moet sny. Daar is nie ‘n manier waarop die senuwee wat tussen twee werwels vasknyp, gaan uitkom nie. Die senuwee het al soos ‘n ballon aan die binnekant van die werwel opgeswel, soos hy knyp. Die kussinkies was weg.
Slegte nuus, maar ons het dit verwag. So bid al ons vriende en familie regoor die land vir hom vir beterskap. Ek self bid sonder ophou.
Kort voor die operasie, raak my man een oggend wakker en sê: “My engel, ek gaan nie vir die operasie nie!”. Ek steur my nie aan hom nie en ignoreer dit – hy is seker bang vir die operasie. Twee dae later bel hy my met dieselfde boodskap van die werk af. Ek sê toe vir hom dat dit nie ’n besluit is wat hy kan neem nie …
Ons het dokter toe gegaan en in die spreekkamer het Alex skielik op sy knieë afgesak en vorentoe gebuig. Die dokter het eers geskrik, want hy dog Alex sak inmekaar. Na ’n hele oomblik van stilte, het die dokter gesê: “God is groot, want op geen manier kon daai rug medies gesproke reggekom het nie!”. Die dokter was verslae en het net so af en toe gegiggel van blote skok en verwondering …
Ons dien darem ’n groot God en uit die mediese dokter se mond, doen Hy vandag nog wonderwerke. Tog is dit God se styl. Van vroeg af het Hy al wonderwerke hier op aarde gedoen. Neem nou maar vir Abraham: 12En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand.
Wanneer God betrokke is, is die gevolge anders. Dinge wat vir mense nie moontlik is nie, raak moontlik. Dinge wat mense gedink het nooit kan gebeur nie, laat God gebeur. Dinge wat onmoontlik is, maak God moontlik.
Dis ons God daai! Hy is ’n God van wonderwerke. Nie net in die verlede met Abraham en Sara nie, maar ook vandag met Celeste en Alex. En ook met die res van Sy kinders.
God sal ook in jou wonderwerke laat gebeur. Glo dit net!
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Glo jy in wonderwerke?
Het jy ’n wonderwerk in jou lewe nodig?
Hoe dik is jou geloof?
Gebed
Ons Vader, ek het ’n wonderwerk in my lewe so nodig. Ek glo dat U nog vandag wonderwerke doen. Maak dit tog in my lewe waar. In Jesus se Naam, amen.