Die groter plan
Ek kry ’n vriend van my in die gym, maar ek kan sommer sien dat hy op die Maandagmôre nie lekker is nie. Dit is nie net omdat hy die naweek overdaad gepleeg het en nou swaarkry met die oefenry nie. Hy was al op pad na die kliënt toe dié hom laat weet dat hy nie lekker voel nie en vir die hoeveelste keer die afspraak onbepaald uitstel. Dit maak hom boos.
My vriend is nie lekker nie, want sien, dit is nou al maande wat sy besigheid sukkel om van die grond af te kom. Dit is asof niks werk nie. Uit die bloute, sonder dat hy gevra het, kom daar ’n werksaanbod. Hy het nie daarvoor gevra nie, maar raak al hoe meer opgewonde daaroor en wonder of dit nie die manier is hoe God se planne in sy lewe begin uitrol nie. Net om na die soveelste onderhoud afgebreek en in sak en as gelos te word.
By die huis is die verhoudings ook aan flarde…
Dis sulke tyd wanneer daar net ’n klomp vraagtekens in ’n mens se kop sit en jy wonder wat is God se plan en waar pas jy as mens nou eintlik in? Is daar vir jou plek in God se plan?
En terwyl hy so praat, onthou ek die stukkie van Paulus toe hy in die tronk gesit het. Dit was seker nie heeltemal sy idee om sy kosbare tyd daar te verwyl nie. Tog het God dit toegelaat sodat Paulus kon skryf en vandag help daardie Godgegewe woorde ons op die pad.
Ek deel Paulus se storie met my vriend en sê dat Paulus seker nie die groter prentjie gehad het nie. Al wat hy kon sien, was dat sy tyd in die tronk eintlik gemors word. Hy het seker die prentjie van die sukkelende mense in Efese gesien en gewonder hoekom help God hom nie uit die tronk sodat hy hulle kan gaan help nie. En tog het God ’n plan gehad met Paulus se lewe. ’n Plan wat baie groter gevolge sou hê as Paulus se eie plannetjies.
Sonder om my vriend se swaar omstandighede mis te kyk, probeer ek vir hom moed inpraat en ’n ander prentjie skets. God het altyd ’n plan. Ons sien nie altyd die hele storie raak nie en daarom maak dit baie keer nie vir ons sin nie. Dan oorval onverstaanbaarheid ons gemoed. Dis seker menslik.
Maar soms moet ons bewustelik onsself optel en die groter prentjie skets. Soos Paulus moet ons sê: 3God het duidelik vir my gewys wat sy plan met julle is, al het mense dit glad nie besef nie. Ja, met elkeen van ons het God ’n plan en die plan is: 6… enigiemand wat in Christus Jesus glo, word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee.
Dit is die groter prentjie. Daarom sal God die omstandighede waarin ons is, gebruik om sy groter plan vir ons lewe uit te voer. Ook daar waar ons in die lewe worstel en dit vir ons voel asof niks uitwerk nie. Ook daar waar jy dalk sukkel by die besigheid, of waar die werksomstandighede nie elke dag lekker lyk nie, of waar jou geldsake uitmekaarval en jou verhoudings aan skerwe lê. God kan al die omstandighede gebruik om sy plan tot uitvoering te bring.
Soms moet ons deur die werklikheid kyk en glo dat God alles ten goede sal laat uitwerk. Soms moet ons, ten spyte van die werklikheid, vasbyt aan die beloftes in die Bybel dat God ons nooit alleen sal los nie. Ja, dalk is dit tyd om net te glo in God se groter plan te midde en ten spyte van hoe dit nou in jou lewe lyk.
Teks:
Om oor na te dink
Glo jy in God se plan?
Glo jy dat God ’n plan vir jou lewe het?
Is dit vir jou moontlik om deur jou omstandighede net aan God vas te hou?
Gebed
Onse Vader wat in die hemel is, soms is die lewe vir my net te swaar en dan sukkel ek om te glo. Soms kan ek net nie glo dat daar ’n plan vir my lewe is en dat U nog in beheer is nie. Ek wil graag aan u plan vashou. Help my, Here, om nie moed op te gee nie. Help my om te bly glo, al lyk dit soos dit nou lyk. Amen