Die Heilige Gees is ‘n deposito
God trek alle stoppe uit om die mens weer onder sy vlerk in te kry. Hy was selfs bereid om sy seun Jesus Christus uit die hemel na die aarde te laat kom sodat dit vir die mense makliker is om in die hemel te kom. Ja, Jesus moes aan ’n kruis sterf om in ons elkeen se plek die straf vir ons sondes te dra. Ek weet nie of ons aldag besef hoe lief God ons elkeen het nie?
God hou egter nie by die kruis en opstanding op met die uitdeel van die genade nie. Nee, ons ontvang nog iets. Ons ontvang die Heilige Gees as Vertrooster en ons Vriend. God se Gees wat in ons elkeen woon, is 24/7 vir ons elkeen beskikbaar. Hy help ons om die wil van God te verstaan en ook te gehoorsaam. God probeer regtig alles vir ons doen sodat ons by Hom in die hemel kan wees.
Maar die Gees se teenwoordigheid in ons vertel nog ’n storie. Dit vertel ons ’n storie van wat hierna op ons wag. Paulus verduidelik dit so mooi: 22God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito, die eerste betaling van sy kant af om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag.
Die teenwoordigheid van die Heilige Gees is ’n waarborg dat daar ’n lewe hierna is. Die Heilige Gees is ’n deposito op dit wat nog kom. As die Heilige Gees net ’n klein stukkie is van wat hierna kom, hoe groot moet die lewe hierna dan nie wees nie! Ek vermoed ons taal se woorde is eenvoudig net te min om te probeer verduidelik en te verstaan waaroor dit gaan. Dit is sulke tye dat ek in trane wil uitbars vir die mense wat nie glo nie of wat net so geheg geraak het aan die goeters op die aarde en nie belangstel in dit wat na die lewe hier op aarde gaan gebeur nie.
God doen baie moeite om die pad na die hemel vir ons so maklik as moontlik te maak. Dis nie net sy Seun wat vir ons sondes gesterf het nie, maar ook ontvang ons die Heilige Gees as deposito en versekering op die lewe hierna. Wanneer onsekerheid van ’n lewe hierna jou wil bestorm of as jy weer vra of ons reg glo, hou vas aan die deposito wat God vir ons gegee het. Die Heilige Gees is die waarborg dat daar iets na die lewe is. Dat daar iets groot na dié lewe is.
Daarom is dit so belangrik dat ons meer plek vir die Heilige Gees in ons lewens sal maak, dat ons elke dag sal stil word en ons ore sal instel op die golflengte van die Heilige Gees. Dan sal ons die deposito beter verstaan en sal die prentjie van die lewe hierna net soveel duideliker wees. En kom ons hou nie hierdie wonderlike nuus net vir onsself nie. Kom ons vertel dit aan ons vriende, familie, kollegas en vreemdelinge, sodat hulle eendag saam met ons deel kan hê aan die heerlikheid van God.
Om oor na te dink
Glo jy dat die Heilige Gees ’n deposito is op die lewe wat nog kom?
Wat vertel dit vir jou van die lewe hierna?
Aan wie moet jy die nuus vertel?
Gebed
O, Gees van God, ons hoor U nie altyd nie en ons sien U ook nie altyd as ’n deposito op die lewe hierna nie, want ons hol te veel. Die wêreld raas so daar buite en dan mis ons U stem. Help ons om elke dag tjoepstil te gaan sit sodat ons U kan hoor, U kan ervaar en so ’n stukkie van die lewe hierna beleef. Amen