God se Woord in vandag se woorde

Die Heilige Gees se petrol raak nooit op nie


Die dag toe ek besef dat ons grote God ’n stukkie van Sy Heilige Gees in ons geplaas het, was ek in ekstase. Ek kon eintlik nie glo dat God so iets sou doen nie. Hoe hoog moet Hy ons darem nie ag om ons met ’n stukkie van Sy Gees toe te vertrou nie?

Ek het dadelik die pen opgetel en daaroor begin skryf.

Maande later, moes my vrou dit redigeer om uitgestuur te word. Sy kom by daardie stuk aan en sê ek is verkeerd. God het nie net ’n stukkie van Sy Gees vir ons gegee nie, maar Sy volle Gees. Ek het begin soek na die verse. En wraggies, dit is toe so, God het Sy volle Gees gegee om in elkeen van ons wat glo te lewe!

6God het ook nie net ’n klein stukkie van die Heilige Gees aan ons gegee nie. Nee, deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser, het Hy die Heilige Gees in sy volheid oor ons uitgegiet.

Die Engelse vertaling sê dat die Heilige Gees abundantly oor ons gegiet is. Dit alles deur die handewerk van Jesus. Van die Heilige Gees is daar oorgenoeg vir ons elkeen gegee. Nêrens langs die pad sal die Heilige Gees se asem opraak nie. Hy sal nooit sê dat Hy nou te moeg is of dat die vereistes nou ’n bietjie te hoog is om by te kom nie. Sy petrol sal nooit opraak nie.

Is dit nie wonderlik om te besef dat God nie net vir Jesus na die aarde toe stuur om in ons plek aan die kruis te sterf nie, maar ons ook Sy Heilige Gees gee om ons op die pad vorentoe te help? God het die hele proses goed deurdink. Hy het besef dat ons mense nie by magte is om die pad na bekering alleen te stap nie. Ons sou nie eens lekker weet wat die verkeerde dinge is wat ons doen nie, wat nog te sê om te werk daaraan.

En hiervoor gee God oorgenoeg. Oorgenoeg dat die Heilige Gees se petrol nie langs die pad opraak nie. Maak nie saak hoeveel verkeerde dinge daar in jou lewe is nie. Maak nie saak hoe hoog die hoop sonde in jou lewe lê nie. Die Heilige Gees is genoeg om jou al die pad te help.

Eintlik is dit net deur die Heilige Gees wat ons ons sondes raaksien en dit met wortel en tak begin uitroei. Dis net deur Sy genade wat ons die eie ek kan agtertoe skuif en ons medemens raaksien. Dit is net deur Sy harde werk in ons dat ons goeie werke kan doen.

Henry (e-sword) sê ons moet die Heilige Gees in alle erns soek en baie ag slaan op Hom, sodat ons nie Sy aanmoediging in ons lewe blus nie. Hy gaan verder deur te sê dat die Heilige Gees sensitief is en as ons Hom weerstaan en aanhou om Hom teen te gaan, Hy later sal onttrek.

Mag dit tog nooit in ons lewens gebeur nie! By watter godverlate plek sal ons ons dan bevind?

God en Jesus het Hulle Gees vir ons elkeen gegee. Oorgenoeg om ons te help op die pad van vernuwing en heiligmaking. Kom ons wees sensitief vir Sy stem. Kom ons luister mooi na Sy raad en kom ons doen dit, sodat ons al hoe meer na ons ouer broer, Jesus, kan lyk en doen soos Hy gedoen het.

Teks
Tit 3:3-7

Om oor na te dink
Is jy ook opgewonde oor die Heilige Gees in jou lewe?
Word jy genoeg stil om die Heilige Gees te hoor?
Hoe moet jy maak?

Gebed
Vader, hoe groot is U nie? U dink altyd verder en het geweet dat ons nie die pad van heiligmaking op ons eie sou kon loop nie. Dankie dat U Gees oorgenoeg vir ons elkeen is. Help my om tyd te maak en mooi te luister na die Heilige Gees se stem. Help my om dit toe te pas en voluit ’n nuwe lewe te leef. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek