Die Heilige Gees staan vir Jesus in ons op
1 Korintiërs 12:1-11
In elke mens is daar ’n gees. As die mens nie dié ruimte beskikbaar stel vir die Heilige Gees om in te woon nie, kom ’n bose gees sy intrek neem. Party mense skrik as hulle dit hoor, want hulle is nie seker of die Heilige Gees in hulle woon nie. Paulus sê dit is maklik om te weet watter gees daar in mense is: 3As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie.
Dit is ’n eenvoudige toets. Kyk wat kom uit die persoon se mond. Mense wat vir dinge van Jesus lag, het nie die Gees van God in hulle nie. Jy sien, die Heilige Gees kan dit nie oor sy hart kry om oor God se dinge te lag nie. Wanneer iemand dan ’n bespotting maak, is dit ’n teken dat dit een of ander bose gees is wat deur die persoon praat.
3… As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê. Wanneer iemand God erken as Skepper of sê dat Jesus vir ons sondes gesterf het, is dit ’n teken dat die Heilige Gees in daardie persoon woon. Die Heilige Gees help ons om God “raak te sien” en Hom te erken as God. Die Heilige Gees stap tree vir tree saam met ons en is daar om ons te help om die regte pad te loop. Die vraag is net of ons luister na sy stem en leiding.
’n Vrou vertel vir my ’n storie van die dag toe sy gehoorsaam was aan die stem van die Heilige Gees:
Ons is tog so geneig om groot deurbrake te soek in wat en waar die Here ons gebruik. Dis nie die size wat belangrik is nie, dis of mens gehoorsaam is wanneer die Heilige Gees ’n begeerte in ons harte plaas. Nee, nie ’n begeerte vir iets vir myself nie maar iets wat iemand anders dalk van Sy Liefde kan vertel. Hier is ’n getuienis van die begeerte wat die Heilige Gees in my geplaas het en iets groots tot gevolg gehad het.
Ons was betrokke by ’n man en sy seun wat altwee met drugs deurmekaar is. Beide pa en seun het dikwels in ons huis gekom, en ek het baie lief geword vir hulle. Met die seun se verjaarsdag wou ek hom so graag ’n geskenkie gee, maar wat gee jy vir ’n jong seun van 15 jaar?
Die begeerte het toe in my hart gekom en ek het vir hom sy eie Bybel gekoop, iets wat hy glad nie geken het of mee groot geword het nie.
Nou, ’n jaar later, is hy in rehabilitasie en my dogter het vir hom die naweek gaan kuier en hy sê vir haar: I remembered to pack my Bible and I am reading it now.
Hoe groot is ons God nie? Ek is seker dis die eerste stap na gesond word en miskien kan hy sy pa ook help om by Jesus uit te kom.
Dit is so duidelik soos daglig. Die Heilige Gees is in beheer. Die stories wat haar dade vertel is die van ’n lewende, reddende Here. Dit is die Gees in haar wat die stories vertel. Dit is die Heilige Gees wat haar aan die werk laat spring het en geskenke laat koop wat die redding van baie tot gevolg het. Ja, dis net die Gees van God wat sulke dinge in mense kan regkry.
Weet dat as jy sê Jesus is die Here, is dit eintlik die Gees van God wat deur jou praat. Daaroor kan jy rustig wees. God se Gees woon in jou. Die vraag is net hoeveel jy na Hom luister en of jy vir Hom ruimte gee om die beheer van jou lewe oor te neem.
Om oor na te dink
Watter gees woon in jou?
Is die Heilige Gees in beheer van jou woorde en dade?
Hoeveel van die Gees is sigbaar in jou werke?
Gebed
O Gees van God, dankie dat U in my woon. Dankie dat ek met alle eerlikheid saam kan uitroep dat Jesus God se seun is. Nou moet ek net meer beheer aan U oorgee en begin doen wat U wil hê ek moet doen. My werke sal soveel anders wees. Ander se lewens kan gered word! Amen