God se Woord in vandag se woorde

Die hemel is waar


Raymond vertel van ’n baie spesiale ontmoeting:

Ek het ongeveer sewe jaar gelede ’n wonderlike ervaring gehad, wat ek glo die Here wil hê ek met ander mense moet deel:

Ek was skielik in die teenwoordigheid van ’n Wese wat net die Here kon wees. Ek kon nie Sy gesig sien nie, maar wel die buitelyne van Sy gesig. Daar het ’n helder lig, amper soos die lig van die opkomende son, van agter Hom geskyn.

Hy het met my begin kommunikeer, nie in woorde nie, maar met Sy gedagtes en ek het presies geweet wat Hy vir my sê. Die gevoel wat ek op daardie oomblik ervaar het, kan ek nie eers probeer om te verduidelik of te beskryf nie, want my aardse woordeskat skiet net vêr tekort.

Die Here het die volgende aan my bekendgemaak:

Die taal van die hemel bestaan uit woorde wat ons mensetaal hier op aarde nie kan uitspreek nie. Ons vokale en klinkers kan nie die hemeltaal uitspreek nie.

Die emosies in die hemel, soos byvoorbeeld liefde, kan ons menslike brein nie verwerk of hanteer nie. Dit is eenvoudig net te “groot”.

As jy in die hemel is, is jy totaal afgesluit van die aarde, want wat hier gebeur, maak net nie meer saak nie.

Die Hemel is ’n absolute werklikheid en ’n asemrowende plek.

Wat vir my absoluut spesiaal was, is die feit dat die Here Hom so met my op die dag bemoei het. Dit is net opnuut ’n bewys dat elke mens hier op aarde vir Hom so vreeslik belangrik is.

Die hartseer sy van die saak, is dat daar wel mense is wat my ervaring afgemaak het as net ’n nagmerrie, as gevolg van te veel knoffel die vorige aand. Gelukkig was daar die wat my storie ter harte geneem het en ek weet dat dit iets besonders vir hulle beteken.

Ek wil graag duidelik bevestig dat die hemel ’n absolute werklikheid is. Jesus is ‘n absolute werklikheid en ons Here wil so graag betrokke wees by ons en in ons lewens!

Ek glo met my hele hart dat die hemel ’n werklikheid is. Ek glo dat almal op die aarde geplaas is om ’n keuse oor God te maak en die wat kinders van Hom word, op pad is na die ewige lewe. Saam met Raymond, stem ek saam dat die hemel ’n absolute werklikheid is.

Dit is so jammer dat sommige mense net nie so vêr kan kom om dit ook te sien en daarin te glo nie en dit afmaak as te veel knoffel. Mag ons geestelike oë nooit so toe wees nie.

Mag ons saam hierin glo: 14Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is.

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Glo jy in die hemel?
Gaan jy hemel toe eendag?
Gaan almal om jou saam met jou?

Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat ek seker kan weet die hemel is daar en dat ek eendag daar gaan opdaag as ek klaar is hier op aarde. Help my om die mense om my ook te vertel en saam te nooi. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek