God se Woord in vandag se woorde

Die honger mense van Rustenburg


Christene Stoffberg van die Platinum Weekly skryf die aangrypende brief aan haar tannie. Sy smeek vir gebed:

My Dierbare Tannie,

Ek het gister iets ervaar wat ek dink gedeel moet word, sal julle my verskoon, kan ek maar teenoor julle breek en dalk bietjie huil?

Een van die belangrikste dinge wat ek besluit het toe ek die werk by die koerant gekry het is dat ek nooit my menslikheid sal verloor nie, dat ek meegevoel sal hê en sal luister en probeer verstaan as mense praat. My werk behels baie aspekte, partykeer sit dit my in ‘n situasie waarin ek glad nie wil wees nie (maar dit is opwindend om uit jou comfort zone te wees). Gister was een van daai dae.

Vandat die staking begin het, het ek van baie mense gehoor wat als verloor het. Bloot om kos op die tafel te kan sit. Banke het baie mense se motors terug geneem en talle mense is sonder huise. In party huise in Rustenburg bly daar tot soveel as sewe gesinne in een huis! My hart breek vir hulle. Dit is mammas en pappas met kinders op laerskool, hoërskool, oumas en oupas.

Dit is verskriklik, maar wat ek gister gesien en beleef het, sal julle insig gee oor wat werklik in Rustenburg aan die gebeur is.

Solidariteit Helpende Hand het ‘n groot skenking gekry. Dertien ton kos is deur verskeie boere en ander takke van Helpende Hand aan Rustenburg geskenk. Ek kom toe te hore van die uitdeel van die kospakkies by een van ons plaaslike kerke. Die joernalis in my speel tennis (gaan ek foto’s neem en ‘n artikel skryf of nie). Ek het eers gedink dit gaan ‘n klein gebeurtenis wees…

Die tennis wedstryd was op ‘n einde en die opponent wat my versoek het om die storie te dek, wen. Ek gryp my kamera en werksak en ry na die kerk wat nie eers 4 blokke van ons kantoor af is nie. Soos ek nader kom sien ek dat ek nie naby sal kan parkeer nie.

Ek praat met die Here: Ag Here, dis dan so baie mense? Wat gaan 13 ton kos die mense help?

Ek kry toe geen antwoord op daai stadium nie, (ek is maar ‘n haastige persoon, ek weet). Ek klim uit my kar en stap die entjie kerk toe. Ek word dadelik by die hek ingelaat toe hulle my media kaart sien (daai kaart is soos ‘n VIP toegang by alle events). Soos ek deur die hek stap, begin ek reeds deur die honderde mense seil wat in lang rye staan en wag vir ‘n kospakkie.

My hart breek…

Klein kindertjies klou aan hulle ouers vas en praat opgewonde oor die kossies wat hulle vanaand gaan eet. Dit was vir my net een te veel. Ek glimlag en sluk die knop wat in my keel opstoot, met moeite af (hou jou gesig neutraal, Christine!) Ek gesels met die betrokke persoon en begin foto’s neem, ek voel hoe my hart kraak en trane net hier agter my oogkassies bymekaarkom. Ek is reg om te bars. Groot mans met hulle gesinne staan en wag en al wat hulle vra, is kos. Niks anders nie. Die mense lyk geensins arm nie, hulle is almal goed versorg en laat staan hulle trots om aan hulle gesinne kos te kan gee.

Ek gaan in die saal in waar mense besig is om kospakkies op te maak. Die saal is tot oorlopens toe vol. Ek praat toe weer met die Here terwyl my kamera huiwer om foto’s te neem: dalk net dalk is daar genoeg kos vir al die mense, Here. Ek groet al die mense en maak my vinnig uit die voete. Die elektroniese hek begin toemaak soos ek nader stap. Ek drafstap vinnig (ek wil nie hê die mense moet sien wat in my hartkamers aangaan nie).

Te laat! Die hek skuif voor my toe. Die mense wat daar staan, kyk na my. Ag nee, Here! Hoe moet hulle nou voel! Ek laat sak my kop vinnig terwyl die sekuriteitsman nader stap en die afstandbeheer se knoppie druk sodat die hek weer moet oopgaan. Ek probeer so grasieus as moontlik na my motor toe loop (ek is seker ek het soos ‘n idioot gelyk). Ek spring in my motor nadat ek sukkel-sukkel die knoppie op my sleutel deur my trane soek. Ek skuif agter die stuurwiel in en bars uit in trane!

Ag Here, daar is soveel mense wat tog te bly is vir ‘n bietjie kos. Al die belangrike dinge in my lewe lyk nou soos klein jakkalsies teenoor wat ek pas beleef het.

Ons is veilig, my man werk baie hard om aan ons te kan voorsien, en ek is ewig dankbaar daarvoor. Ons het nie nodig gehad om een aand honger te gaan slaap vandat die stakings begin het nie en daar sien ek klein kindertjies, opgewonde omdat hulle vanaand na soveel honger dae uiteindelik gaan eet!

Ek ry terug kantoor toe en vertel aan almal dat ons ongelooflik bevoorreg is. Ek beduie so goed ek kan deur my snot en trane. Hulle het my stil aangekyk en geweet dat hulle my gevoel beter sou verstaan as hulle self daar was om dit te sien en beleef.

Hulle kyk deur die foto’s wat geneem is en nou besig is om af te laai op die rekenaar, en al die vroue in ons kantoor se oë raak vogtig. Nou: wat ek groot asb nodig het vir ons pragtige dorpie is gebed! Gebed kan als verander, ek glo dit met my hele hart.

Gisteraand tydens die tafelgebed moet ek bid, want my dierbare man werk toe weer laat. Ek sug uit verligting. Ons het nog werk en kan aan ons familie voorsien. Ek huil soos ek die Here dank vir die gesinne wat vanaand ook darem kos sal hê om te eet. My seun kyk na my terwyl ek bid. Ek self kon maar net nie my oë toemaak nie. Na die amen sê hy: Mamma, dit was ‘n baie mooi gebed. Ek is ook bly dat daardie mense wat mamma vandag gesien het, kan eet. Ek eet toe my pasta in ‘n bacon en kaas sous en voel so skuldig. Hierdie is ‘n luuksheid wat duisende gesinne in Rustenburg nie het nie.

Ek het altyd gewonder hoe dit sou voel om as een van die meer “wel af” mense beskryf te word. Dit is walglik!

Kan Tannie groot asb help bid?

En ons? Wat kan ons doen? Ons kan saam met Christene en haar tannie bid dat God in ons land sal ingryp. Maar meer nog: as jy ‘n verskil wil maak, klik op Kruispad se uitreik webblad (www.take-action.co.za) vir die besonderhede van Staan Saam.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek