God se Woord in vandag se woorde

Die jockey van jou lewe


Paulus sukkel met die mense van Galasiërs. Sy moed is in sy skoene, want dit het aanvanklik so goed gegaan. Hulle het Jesus aangeneem as Verlosser en hulle het die Heilige Gees ontvang. Nou het hulle hulle ore uitgeleen aan ouens wat nie in Jesus glo nie en gekies om eerder weer slawe van die wet te word. 1Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak. Ek begin my afvra of iemand julle nie dalk getoor het nie. Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang. Wat het intussen skeefgeloop?

Dit is ’n baie aktuele vraag wat Paulus hier vra, want ons sien dikwels hoe mense kragtig tot bekering kom en vurig vir die Here brand. Die mense leef met ’n nuwe vryheid en opregte dankbaarheid en die vrug van die Heilige Gees in hulle is duidelik sigbaar.  Maar as jy weer kyk begin die mense wonder of geloof genoeg was om tot bekering te kom? Het hulle nie dalk iets gemis nie? Niks in hierdie wêreld is mos verniet nie!

En dis wat vir Paulus bekommerd maak. Dit lyk nou of die mense wat aanvanklik Paulus se suiwer verkondiging van die evangelie verstaan het nou weer onseker raak omdat daar ander dwaalleraars gekom het wat weer bagasie op hulle wou laai. Het die Heilige Gees nou Homself verskoon van die mense?

Nee, die Heilige Gees sal nie sy trek neem nie. Dit lyk eerder vir my of die mense hulle ore uitgeleen het vir mense wat nie kon glo dat dit genoeg is om in Jesus te glo sodat hulle gered kan word nie. Daarom het hulle hulle redding deur geloof eers opsy gestoot en weer aan die werke vir redding begin vashou. Paulus konfronteer hulle tromp-op: 2Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees? Was dit deur te doen wat die wet sê? Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: Deur te glo!

Die mense van Galasiërs het weer teruggeval in die groef dat jy moet werk vir jou plek in die hemel om gered te word. As jy nie 100% reg lewe nie, as jy nie goeie dade doen nie, kan jy nie gered word nie. En op ’n manier verloor hulle hulle geloof. Die skuldgevoel oor hulle verkeerde dade, die bagasie wat hulle weer begin saamsleep, het hulle geloof geknak. Paulus sê presies vir hulle waar die fout lê: 3Julle is regtig die kluts kwyt. Julle het vroeër reg begin: In die krag van die Heilige Gees. En nou? Nou eindig julle in julle eie krag. 

Paulus praat reguit met die mense van Galasiërs, maar ook met ons. Wanneer jy jou geloof verloor, word die Heilige Gees opsy gestoot en doen jy alles uit jou eie krag. En wanneer ons in ons eie krag operate, is daar gewoonlik chaos, want ons krag is eenvoudig net te min. Wanneer ons in ons eie krag probeer om die lewe te leef, is die resultaat flou en ons saai chaos. Uit ons eie kan ons nie vir ’n ander ’n tweede kans gee nie. Ons reageer met net ons eie behoeftes in gedagte. Die eie ek word groter en daar word op ander getrap. Ons maak mekaar seer. Nee, ek het dit nie so bedoel nie, maar as ek net uit my eie krag leef, is dit die resultaat. Dis hoe dit lyk in Galasiërs. Daarom dat Paulus vir hulle vra of hulle mal geraak het.

Kom ons draai alles om en werk van die dade se kant af. Hoe lyk jou dade? Is daar chaos? Is daar seer? Is daar bakleiery? Hak die dinge vas? Wil niks uitwerk nie? Soek jy na vreugde en vrede? Of raak mense gesond? Kom mense na jou vir rus en vrede? Kan ander by jou kom afkoel? Kan mense hulle harte oopmaak by jou?

Die antwoorde op bogenoemde sal vir jou wys wie die jockey van jou lewe is. Dit is óf jyself wat aan die stuur is óf die Heilige Gees.

Ons almal wil tog die Heilige Gees aan die stuur van ons lewens hê. Ons moet egter sorg dat ons geloof nie van ons gesteel word nie. Jesus se kruisdood was genoeg vir ons om gered te word. Dit is genade. Ons moet daarin glo en dan moet ons genoeg ruimte vir die Heilige Gees in ons lewens maak sodat Hy kan bestuur, want as Hy die stuur en bestuur van ons lewe oorneem, sal die chaos verminder en sal ander anders word, omdat die Gees deur ons in hulle kon werk.

Teks

Galasiërs 3:1-14

Om oor na te dink

Glo jy dat jou geloof in Jesus se kruisdood genoeg is vir jou om gered te word?

Wie is aan die stuur van jou lewe?

Watter storie vertel jou dade?

Gebed

Jesus, ek glo in U. Ek glo met my hele hart dat U kruisdood my gered het van ’n ewige lewe sonder U. Ek glo dat U die skuld vir my sondes gedra het. Sjoe, dit is soveel genade. Tog weet ek dat ek gedurig die stuur van my lewe uit die hande van die Heilige Gees neem. Ek wil dit nie meer doen nie, want ek besef dat ek nie kan aanhou om op my eie krag te operate nie. Help my, Vader, om toe te laat dat die Heilige Gees die beheer van my lewe oorneem. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek