Die laaste skuif
Die internasionale evangelis, Tony Anthony, vertel van die legende van die “Skaakmat” skildery van Friedrich August Moritz Retzsch. In die skildery sit daar twee spelers om die skaakbord. Die een is die duiwel, baie selfversekerd en die ander ’n gewone man wat baie bekommerd lyk. Die prys vir die wenner? Die siel van die man. Aldus die opskrif: Skaakmat!
Volgens die legende het ’n skaakkampioen eendag by die museum ingestap en lank by die skildery stilgestaan. Skielik skree hy uit: “Dis ’n leuen! Dis ’n leuen!”
Mense staan nader en die samedromming van mense noop die kurator om te gaan kyk wat aangaan. Die kampioen was duidelik ontsteld en het weer gesê: “Dis ’n leuen! Dis ’n leuen!”
“Waaroor is u so ontsteld?” vra die kurator. “Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie, dit is ‘n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog ‘n skuif!”
Net toe dit lyk of die mens alles verloor het, toe dit lyk of die mens glad nie meer ’n kans het op die lewe nie, toe dit lyk na skaakmat, is daar nog een skuif oor. 10… Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek.
Op ’n manier weergalm Jesus se woorde aan die kruis in my kop: “Dit is volbring!” God het deur Jesus Sy laaste skuif gemaak en as wenner uit die stryd getree. Hierdie houvas wat die satan op die mens gehad het, het Jesus aan die kruis kom los maak. Die kettings wat die mens vasgehou het, het Jesus kom los breek. Die swaar bagasie wat hulle agter hulle aangesleep het, het Jesus afgepak.
Met Jesus se laaste skuif het Hy as wenner uitgetree, die mens verlos en satan meer as net ’n bloedneus gegee. Hy het hom ’n goeie pak slae gegee en sy angel getrek.
Met Jesus se laaste skuif het Hy vir ons ’n groot stuk oorwinning bewerk: 10… Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.
Ek sit lank en dink oor presies wat dit beteken. Ons weet dit. Ons ken dit so goed, maar besef ons werklik wat ons hier erf?
’n Lewe wat net lekker is. ’n Lewe sonder seer en swaar en siekte. ’n Lewe waar lag nie ophou nie en die vreugdevure hoog brand en nooit geblus kan word nie.
Dit is die prys wat ons ontvang as gevolg van Jesus se laaste skuif.
Dis vir my wonderlik om te sien hoe mense reageer as hulle iets gewen het. Dis asof hulle uit hulle velle wil spring. So asof hulle vel te stadig is om te reageer met die skielike opgewondenheid van binne.
En dis presies soos ons moet reageer op hierdie wonderlike prys wat ons wen as gevolg van Jesus se laaste skuif. Elke dag moet dit lyk asof ons uit ons velle spring. Mense moet kan sien wat die impak van Jesus se laaste skuif in ons lewe is. Hulle moet so nuuskierig wees dat hulle sommer sal vra wat met jou aangaan.
Gaan leef vandag net so.
Teks
2 Timoteus 1:8-12
Om oor na te dink
Verstaan jy Jesus se laaste skuif?
Wat is die impak daarvan op jou lewe?
Sien ander dit raak?
Gebed
Jesus, dankie dat U die pad na die ware lewe vir my oopgemaak het. Dankie dat ek kan weet dat die bekommernisse en pyn van die lewe op aarde nie vir altyd gaan aanhou nie. Help my om my oë op die dinge daar bo te rig sodat ek vol hoop elke dag kan aanpak. Amen.