God se Woord in vandag se woorde

Die minste word geroep


(Hoop die nuwe Kruispad formaat is sag op die oë. Sommige eposse val egter steeds in pespos filters vas. Om te verseker dat Kruispad by jou uitkom, laai gerus die Kruispad App af en kies Crossroad247 in App store. Met die eerste opmaak van die App, kies Afrikaans. Slegs vir Android en Apple selfone.)

Paulus was ’n groot man. Hy het die wêreld vir God omgedop. Hy het met alles in hom geglo dat Jesus se verlossingsboodskap aan al die nasies uitgedra moet word en daarom het hy geen steen onaangeraak gelaat nie. Daarom het niks in sy pad kom staan nie. Al het hy baie doodsdreigemente gekry, al is hy ’n paar keer in die tronk gegooi, niks kon sy passie breek om die evangelie uit te kry nie.

So ’n wonderlike voorbeeld vir ons elkeen.

En tog sien hy nie dieselfde prentjie nie. Hy gee ons ’n kykie in sy spieël: 8Van al die Christene is ek die minste werd. Hy besef dat hy uit sy eie niks kan doen nie. Hy besef dat alles wat hy tot op hede reggekry het, nie uit sy eie krag is nie. Daarom vat hy geen eer nie. Hy bly nederig.

Hoe kry Paulus dit reg om so nederig te wees?

Ek dink hy is intens bewus van sy eie tekortkominge. Hy besef dat hy niks uit sy eie kan regkry nie. Hy weet dat hy bedraad is om te verwoes, amper soos hy in sy BC (before Christ!) dae die Christene uitgemoor het. Hy weet dat hy eintlik die hel met groot sukses verdien, maar op ’n manier het God in sy lewe ingegryp en alles omgedop.

Dit is waar nederigheid vandaan kom: As jy besef wie jy is en wat jy eintlik verdien teenoor waarheen jy eintlik op pad is. Die feit dat Paulus en ek en jy nie meer na die hel toe gaan nie is nie uit eie verdienste nie. Ons het eintlik niks daarmee te doen nie. Nee, dit is as gevolg van Jesus. Daarom kan ons nie in die ry staan vir eer nie. Ons kan niks ontvang nie. Net God en Jesus en die Gees kan die eer ontvang.

Ons moet nederig wees. Ons moet ons plek ken en besef dat ons eintlik niks is nie.

En tog ag God vir Paulus en my en jou so hoog dat hy ons pick. Sonder dat ons dit gevra het soos Donkey in Shrek wat op en en af spring en skree: Pick me! Pick me! Nee, ons wou eintlik ons rug draai. Ons kan dit nie glo dat God ons roep nie. Daarom staan Paulus verbaas dat God hom wil gebruik: 8… Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my.

God kies gewone mense soos ons. Ja, God gebruik predikante, pastore en mense met dik stemme, maar Hy gebruik ook gewone sondige mense soos ons. Ek het al vir God gesê dat ek eenvoudig nie die een kan wees wat Hy wil gebruik nie. Ek is eenvoudig net te sondig. Ek is eenvoudig net dit: Eenvoudig. Daarom staan ek verbaas as ek die een e-pos na die ander kry wat dankie sê dat ek die evangelie met hulle deel. Dan antwoord ek keer op keer: My mond hang oop as ek sien hoe God met ’n krom stok soos ek ’n reguit hou kan slaan. Aan Hom AL die eer!

Nou, as God vir Paulus kan gebruik wat God se kinders by die duisende doodgemaak het en as God vir my kan gebruik wat soveel keer in die hek geploeg het en die grense so baie keer getoets het, dan kan God vir jou gebruik. Ja, God wil vir jou gebruik, al dink jy soos Paulus dat jy die geringste is, die minste werd is. Daar waar jy is. Daar waar jy werk, loop en speel, wil God jou gebruik.

Gaan raak stil en vra vir God hoe Hy wil hê jy moet Hom aan die wêreld wys en wanneer jy dan ietsie regkry, onthou waar jy vandaan kom. Bly nederig, want jy weet mos dis nie jy wat dit kon regkry nie. Mag die wêreld anders lyk omdat jy net jou stukkie in God se Koninkryk gedoen het.

Teks:

Efesiërs 3:1-13

Om oor na te dink

Glo jy dat God jou kan gebruik?

Hoe?

Waar?

Gebed

Vader, met huiwering lees ek die boodskap, want dit voel vir my asof ek nie goed genoeg is om vir U te werk nie. Maar dankie dat ek nou kan hoor dat U tog vir my wil gebruik. Maak my oë oop om te sien waar U my vandag wil gebruik. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek