Die mooi hier om ons
Ansie skryf:
Ek het baie dinge waarmee ek worstel en baklei. God het deur sy groot genade al baie kwellings stil gemaak. Ek lag weer en geniet elke dag. Ek voel asof ek ’n tweede lewe gekry het.
Ek het ook al my hand aan my eie lewe geslaan. Dit is net deur God se genade dat ek gespaar is om die vyf kinders waarmee Hy my vertrou, met liefde groot te maak.
Ek beleef die wonderlike geskenk van ses pragtige kleinkinders, met nog twee op pad!
Partymaal dink ek ons kyk te veel die vêrte in en vergeet van die pragtige blomme by ons voete.
In agt sinnetjies gee Ansie vir ons ’n kykie in haar verlede, hede en toekoms. Maar meer nog, sy kom gee vir ons ’n wonderlike stuk getuienis van ’n God wat ons sal beskerm, selfs teen onsself. Daar waar sy haar lewe wou neem, het God haar deur sy genade beskerm en gekeer dat sy dit doen.
Dis wat God doen. Dis wat God vir ons elkeen doen. Hy beskerm. Hy bewaar ons teen die kwade. Teen die mense en dinge wat ons lewe wil neem, beskerm God ons. Selfs teen onsself.
En tog sien ons dit nie raak nie. Hoekom nie? Ansie help ons weer met ’n groot stuk waarheid: Partymaal dink ek ons kyk te veel die vêrte in en vergeet van die pragtige blomme by ons voete.
En is dit nie so waar nie! Ons hou ons oë gevestig op die storms wat aan die kom is. Ons raak so opgewerk oor iets wat dalk met ons gaan gebeur, dat ons die mooi hier om ons voete nie raaksien nie. Ons sien nie die genade wat God ons gegee het om vanoggend te kon opstaan, om asem te haal, om kos op die tafel te hê, om ’n dak oor ons kop te hê en nog soveel meer raak nie.
Ek verander my lewenspolis en die versekeraars reël ’n suster vir ’n vinnige mediese ondersoek, sommer hier in ons huis. Ek staan verwonderd oor hoe maklik dit deesdae is om al die suiker-, cholesterol-, M.I.V.-, en watter toetse ook al, hier om die kombuistafel te doen. Maar die vrae oor alle verskillende siektes, party wie se name ek nog nie eens van gehoor het nie, raak al hoe meer.
Toe die dame hier wegstap, besef ek hoe ongelooflik begenadig ek is. Vir al daai vrae kon sy elke nee-blokkie afmerk. Geen gevreesde siekte of toestand wat aan my deur klop nie.
Dis die blommetjies hier om ons wat ons nie raaksien nie. Hiervoor moet ons harte en monde en hande en voete oorloop. Aan God kom al die eer toe.
18Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees.
Ja, God moet vir altyd grootgemaak word. Ons moet lewe tot God se eer. Mag dit waar wees van ons manier van lewe en doen.
Teks
2 Tim 4:9-18
Om oor na te dink
Waar fokus jy?
Sien jy die mooi om jou raak?
Leef jy tot eer van God?
Gebed
Vader, dankie dat U my beskerm. Dan dat U altyd by my is om my deur die storms te lei. Dankie ook vir elke stukkie mooi in my lewe. Help my om nie my te verkyk aan die donker wolke op die horison nie, maar die mooi wat U hier om my plaas, te geniet. Amen.