Die naaste aan ons
Die tien gebooie is nie so maklik om te onderhou nie. Baie keer weet ons nie eers lekker wat in die tien gebooie staan nie, wat nog te sê om dit orals in ons lewe te doen.
Jesus het dit geweet en daarom kom som Hy die wet van God baie eenvoudig op: ons moet ons naaste liefhê soos onsself. En selfs dit is nie so maklik nie, want ons sien nie eers die nood van ander mense raak nie.
Karen is anders:
Ek werk by ’n droëvrugte- en neutemaatskappy. Daar het ’n onbekende vrou van Brakpan gebel om met die CEO te praat. Sy het die hele naweek na hom gesoek en toe kom sy weer by my uit.
Ons begin praat en sy vertel my sy het ’n gestremde dogter wat droëvrugte nodig het, maar kan dit nie bekostig nie. Die dogter drink baie pille en sy sukkel met hardlywigheid.
Toe begin ek vir haar pakkies stuur.
Ek noem dit net omdat die Here so vir ons sorg. Nie omdat ek die pakkies stuur nie.
God gebruik gewone mense. Ja, soms die hoof oor honderd, maar baie keer een van die honderd. Die gewone mense om ’n ware verskil in ander se lewens te maak.
En die verskil wat in ander se lewens gemaak word, word aangevuur deur die wet van Jesus: wees lief vir jou naaste soos vir jouself. As ons almal net hierdie een wet kan uitleef, sal die wêreld soveel anders lyk.
Ek dink dat ons die uitleef van die wet nie orals sien grondvat nie, omdat ons nie altyd lekker weet wie almal ons naaste is nie. Die meeste van ons dink dat ons naaste die mense daar anderkant is.
Ja, dit is die mense saam met wie ons werk en wie vir ons werk. Dit is ons vriende en selfs die vreemdeling wat êrens uit nood uit oor ons pad gestrompel kom. Gewoonlik mos op die mees ongerieflike tye.
Dis die naaste mense aan ons, wat ons nie altyd besef ook deel is van hierdie kategorie nie. En dis juis hier waar dit die moeilikste is, maar die wat dit gewoonlik die meeste nodig het.
Kom ons probeer ons bes om hierdie eenvoudige opdrag orals te gaan uitleef, ook aan die om ons wat dit so nodig het!
8As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê.
Teks
Jakobus 2:8-13
Om oor na te dink
Leef jy die opsomming van die wet?
Wie is jou naaste?
Waar moet jy nou gaan liefde leef?
Gebed
Vader, ek ken hierdie opsomming van die wet, maar dit kom nie orals in my lewe uit nie! Ek wil graag aan almal dit gaan uitleef, veral die naaste aan my. In Jesus se Naam. Amen.