God se Woord in vandag se woorde

Die nagmaal laat my onthou


1 Korintiërs 11:23-26

’n Vrou stuur vir my ’n epos. Sy is raadop met haar tieners wat alles bevraagteken. Is dit wat in die Bybel staan waar? Het Jesus regtig op die aarde gelewe? Geld die dinge nog alles vir vandag?

Ons almal kom een of ander tyd by ’n klomp vrae te staan en dit is goed so, want ons moet seker maak dat dit waarin ons glo nie sommer net ’n airy fairy tale is nie. Gelukkig het die evangelie die toets van die eeue deurstaan en dit is vir enige mens toeganklik. Een van die redes waarom die wonderlike boodskap van verlossing nooit vervaag het nie, is omdat mense dit elke keer via die nagmaal kan hoor en ervaar.

Die nagmaal is ’n wonderlike hulpmiddel wat God vir ons gegee het om te kan onthou wat Jesus vir ons gedoen het. God het seker geweet dat ons baie maklik sal vergeet en dat sy daad met die omslaan van die eeue agterweë sou bly. Daarom het Hy hierdie besondere praktiese tradisie vir ons ingestel sodat ons vandag,        2 000 jaar later, steeds kan onthou.

Ons kan, wanneer die brood in stukkies gebreek word, onthou dat Jesus deur die stofstrate gestap het en die armsaliges, die wat honger en die wat dors het, die siekes van liggaam en siel, die prostitute en die diewe aangeraak het. En juis vir hulle word daar spykers deur sy hande en voete gekap om Hom aan die kruis te laat hang totdat Hy sterf.

Juis hierdeur word die hekke van die hemel oopgestoot om nooit weer toe te gaan nie. Vir al die mense van toe en ook van nou. Vir jou word Jesus se liggaam in stukkies gebreek sodat jy ’n kans kan kry om by die hemel in te stap. Die brood wat gebreek word, gee vir jou ’n uitnodiging om in te stap. Soos die krummels na die grond val en die voëltjies dit kan oppik sonder betaling, kry jy die ewige lewe sommer net so – omdat jy glo in die brood, in die kruis, in Jesus se liggaam wat in stukkies gebreek is vir jou.

23… Hy het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen, sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer as julle dit eet, moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.”

Ons kan deur die wyn wat van die beker na die glas val, onthou hoe die bloed geloop het toe die dorings van die kroon sy kopvel binnegedring het. Die bloed het gevloei uit sy wonde waar die sweep telkens neergekom het en stukkies vleis uit sy liggaam geruk het. Daar waar die yster sy hande en voete deurboor het, het die bloed in straaltjies uitgeloop.

Vir jou en my is Hy verneder tot die dood. Met Jesus se bloed is die geslote deur van die hemel oopgesluit. Daar staan nou niks meer tussen God en sy kinders nie. Daar is ’n nuwe kontrak, ’n nuwe ooreenkoms en dit sê: Glo in my en jy is welkom in My huis. My deur staan wawyd oop vir jou!

Dit is deur die bloed van Jesus moontlik gemaak.

 25Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.”

Wanneer ons die maaltyd vier, help dit ons om te onthou wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Dit was God se plan om vir ons nog ’n kans op die ewige lewe te gee. Dit is die verlossingsplan wat ons red uit die kloue van die duiwel en die dood. Ons kan nou weer lewe met hoop. Hoop op ’n nuwe wêreld waar ons in liefde vir ewig sal lewe.

Laat ons die fantastiese, bevrydende boodskap gaan uitleef in die wêreld daar buite. Laat die mense met die vraagtekens agter hulle woorde, antwoorde by ons kry en laat hulle hoor dat Jesus se liggaam ook vir hulle gebreek is en dat sy bloed gevloei het om die straf ook vir hulle sondes te dra.

God het jou ontsettend lief. Daarom het sy Seun se bloed gevloei en is sy liggaam gebreek, sodat jy die voorreg het om te mag LEWE!

Leef vandag so ’n lewe!

Om oor na te dink

Wat beteken die brood vir jou?

Wat beteken die wyn vir jou?

Waar kan jy dit gaan uitleef?

Gebed

Onse Vader in die hemel, dankie vir die herinnering deur middel van die nagmaal. Dankie dat U toegelaat het dat mense U seun se liggaam breek. Dankie dat U seun se bloed gevloei het – alles sodat ons wat in U glo die ewige lewe kan ontvang. Dankie vir U liefde sonder enige beperkings. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek