God se Woord in vandag se woorde

Die oorwinnaarskroon wag op die wat staande bly


In die ou antieke spele is die atlete wat eerste gekom het, met ’n wennerskroon beloon. Die kroon is uit lourierblare en takkies gemaak. Groot was die fees vir elke wenner na die tyd, maar die volgende môre was die blare en takkies verwelk en moes die ouens maar weer begin oefen vir die volgende jaar se uitdaging.

Die geluk en die ervaring is so groot, maar soos die tyd aanstap en die oorwinning al hoe verder in die atleet se geheue verdwyn, raak die lekker ervaring ook al hoe minder. So dis alles net tydelik van aard.

Ons wennerskroon kom van ’n ander plek af. 12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Voor ons egter by die kroon uitkom, moet ons besef dat daar moeilike tye gaan wees. Daar gaan versoekings oor ons pad kom. Niemand word gevrywaar van uitdagings wat in ons pad kom lê nie.

Die grootste uitdaging is om in hierdie uitdaging staande te bly. En vir ons gewone mense is dit nie so maklik nie. Ons het nie altyd die vaardighede of die kennis nie. Partymaal is ons so emosioneel oorlaai en wil ons eintlik maar net in ’n hoekie gaan opkrul en stil lê.

Dis egter beter om die uitdaging by die horings te pak en seker te maak dat ons sterk genoeg is om staande te bly. Hiervoor het ons baie kennis en wysheid nodig. Dit kan ons natuurlik in God se Woord kry.

Ons kry ook leiding deur ons verhouding met die Heilige Gees. Dis juis wysheid wat ons help om te besef dat ons die uitdagings nie op ons eie kan trotseer nie en dat ons eintlik te lig is om staande te bly.

Wanneer ons dit regkry en ons die swaar seisoen in ons lewe suksesvol deurstaan het, kom ons op die wennerspodium te staan en ontvang ons die oorwinnaarskroon.

Hierdie kroon verlep egter nie soos die lourierkroon van die ou Olimpiese spele nie. Nee, hierdie een is vir ewig. Dit is die lewe hierna wat nooit gaan ophou nie. Wanneer die aardse lewe verbygaan, sal die seisoen van die Ewige Lewe inskop en sal dit nooit weer eindig nie.

En dit is ’n belofte van God. God sê dat as ons die beproewings van die lewe suksesvol aflê, ons deel sal raak van Sy familie. Dit is juis deur ons vasbyt en aanhou deur die krisisse van ons lewe, dat ons vir God wys hoe hoog ons Hom ag en juis daarom sal ons deel hê aan al die voordele wat God aan Sy kinders uit genade skenk.

Wanneer ons dus weer voor ’n uitdaging te staan kom, wanneer die donker wolke op die horison saampak, moet ons ons oë op die wennerskroon gerig hou. Dit moet ons motiveer en krag gee om voort te gaan. Laat ons dit nooit vergeet nie.

Teks
Jakobus 1:12

Om oor na te dink
Hoe maak jy met die uitdagings in jou pad?
Hoe kan jy die troon in die oog hou?
Glo jy dat dit jou krag sal gee om deur die uitdaging te kom?

Gebed
Here, dankie vir die belofte dat ons oorwinnaarskroon op ons wag. Help my net om staande te bly, want soms gaan dit niet so wel. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek