God se Woord in vandag se woorde

Die plek van geld in jou lewe


Wat jaag jy na? Rykdom of die evangelie? Die meeste Christene sal sê dat ons die evangelie najaag. En dit is reg so. Tog, as jy mooi gaan kyk, sal jy sien dat die soeke na geld in ons almal se lewens ’n groot rol speel. Nee, ek wil nie ryk wees nie, ek wil net genoeg hê. Ek wil nie rol in die geld nie, ek wil net geld hê om te koop wat nodig is.

Maar hoeveel kos dit jou? Miskien moet ons nie antwoorde gee in terme van rand en sent nie, maar eerder in terme van tyd. Om só ’n leefstyl te verdien, hoeveel tyd moet ek afstaan om dit te vermag? Hoeveel van myself en my huwelik is ek bereid om te gee? Waar gaan ek die lyn trek tussen die vereistes van die besigheid of werk en die verwagtinge van my kinders?

So maklik word ons stukkie vir stukkie ingetrek in ’n leefstyl wat meer vat as wat ons eintlik bereid was om te gee. En die wêreld daar buite help ons nie eintlik nie – inteendeel, hulle dryf ons vinnig nader aan die afgrond. Hulle help ons om ons geld te spandeer nog voordat ons dit eers gekry het.

Hulle vra nie of ons dit kan bekostig nie. Hulle vra nie hoeveel geld daar in die bank is nie. Hulle vra nie hoeveel tyd gaan jy weg van jou gesin moet wees om die rekeninge te betaal nie. Hulle vra nog minder wat dit van jou as mens gaan vat om al die rekeninge aan die einde van die maand te betaal. Nee, hulle gee soveel as moontlik vir jou op krediet en saam daarmee ’n groot swaar las om saam te sleep.

Een van die werkers wat vroeër jare saam met my in die boubedryf gewerk het, het  iets van net meer as ’n R1 000 op skuld gekoop, maar toe raak hy agter met die paaiemente. Later kry hy ’n brief van ’n prokureur. Die hof het beslis dat hulle die uitstaande geld, rente en kostes van die werknemer moet verhaal: Meer as R5 000! Binne ’n oogwink raak die las te swaar en glip een van die bagasie se toue om jou nek.

Ek begrawe later een van die sub-kontrakteurs se pa. Dit is ’n klein begrafnis en die buurman wat by die oom uitgekom het toe hy ’n hartaanval gekry het, kom praat na die tyd met my.

Hy vertel van sy eie drankprobleem. Ek kan sien én ruik dat dit so is. Hy sê hy het nou al drie maal probeer om selfdood te pleeg. Ek vra hoekom. Hy sê net een woord: “geld” en hy begin met die lang stories van hoe geld hom van sy hele wese gestroop het.

Daarom die groot waarskuwing van Paulus vandag: 9Mense vir wie dit baie belangrik geword het om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel.

Sjoe, dit is nogal erg. Dalk val ons nie heeltemal in die kategorie nie, maar miskien moet ons ophou om ander en ander se goed die heeltyd te begeer. Wees tevrede met wat jy het. Nee, wees dankbaar vir wat jy het en geniet dit. Daarom moet ons eerder aan vers 8 vashou: 8As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees.

En as jy geseën is met welvaart, seën ander daarmee en sorg dat dit eerder God se Koninkryk dien as wat jy dit aanbid.

Teks
1 Timoteus 6:6-10

Om oor na te dink
Hoe belangrik is geld vir jou?
Is jy tevrede met wat jy het?
Moet jy nie dalk iets vir ander doen nie?

Gebed
Hemelse Vader, U is my Voorsiener. U gee aan my wat ek nodig het. Maak my opreg dankbaar vir wat ek van U ontvang. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek