Die pryse by die prysuitdeling
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 4:1-7
Ek wonder dikwels hoekom mense nie vir ander ruimte wil gee nie. Mense bespreek maklik ’n ander ou se dinge. Stertjies word aangelas en voordat jy kan keer, moet iemand verskoning gaan vra oor dinge waarmee hy of sy niks te doen het nie. Ek vermoed dat mense wat ander se naam swartsmeer, self nie ’n goeie selfbeeld het nie. Om die beeld oor hulleself beter te maak, moet hulle ander afkraak. Dit is sleg en daar is geen wenners nie.
Dit gebeur elke dag orals rondom ons. Dit kom al van die sondeval se dae af. Selfs hier waar Paulus ’n nuwe gemeente in Korinte geplant het, verval die gemeentelede daarin. Hulle praat agter Paulus en Apollos se rug en stertjies word aangelas. Paulus laat egter nie toe dat hierdie bogpraatjies sy energie steel nie: 3Maar ek steur my min aan wat ander mense oor my werk kwytraak. Ek self mors ook nie tyd om te sit en tob of ek goed of sleg vaar nie. 4Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie en my gewete pla my ook nie.
Paulus probeer tot die beste van sy vermoë sy werk reg doen. Hy weet wat sy taak is en hy spandeer al sy energie om dit te doen. Hy laat nie toe dat hy ge-side track word deur kantoorpolitiek nie. Hy weet as hy hom met die semels gaan meng, die varke hom saam met hulle gaan opvreet.
Ek glo ook met my hele hart dat kroekies een of ander tyd uitbraai. Hier vanaf die kant lyk dit of die mense wat stories versprei die binnebaan van die lewe ry. Ja, dit kan dalk aanvanklik so lyk, maar êrens langs die pad kom die waarheid uit en kry boontjie sy loontjie.
In geen onduidelike taal word hier vir ons elkeen presies gesê hoe ons moet optree: 5Moet daarom nie te vinnig wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed nie. Wag geduldig tot die Here kom. Hy sal nie oppervlakkig oordeel nie. Die dinge wat mense skelm gedoen het, sal dan nie meer in die donker bly nie. Dit sal oop en bloot wees vir almal om te sien. Die motiewe waarmee mense vir die Here gewerk het, sal op dié dag nie meer weggesteek kan word nie. Dit sal daar wees vir almal om te hoor. Dit sal soos ’n prysuitdeling wees: elkeen sal van God die prys kry wat hy verdien.
Sit ’n wag voor jou mond en los ander mense se doen en late uit. Ons verstaan in ieder geval nie altyd die ander een se omstandighede nie. Gee ruimte vir ander mense se anderse optrede. As daardie persoon se motiewe nie suiwer is nie, is dit sy of haar probleem. Sorg net dat jy nie by ander se agter-die-hand-praatjies ingesuig word nie. Al die dinge sal tog eendag op die tafel uitgegooi word vir almal om te sien.
Doen eerder jou werk tot die beste van jou vermoë. Maak seker dat daar nie vingers na jou of na jou werk gewys kan word nie. Al lyk dit soms onregverdig dat ander bo jou aangestel of beloon word, onthou net die heeltyd dat God die een is wat eendag die groot pryse gaan kom uitdeel. Hy weet dat jy jou bes probeer. Hy sal toesien dat jy jou prys ontvang.
Kom ons sit al ons energie in om die praktiese raad van Paulus te volg. Daar sal minder lyke op ons pad lê en ons beloning sal soveel groter wees.
Om oor na te dink
Wat sê jy van ander mense?
Wat sê ander mense van jou?
Doen jy jou bes in alle omstandighede?
Kruisverwysing
Gebed
Vader, dit is nie altyd maklik om op te staan teen mense wat daarop uit is om jou af te breek en jou naam swart te smeer nie. Help ons om ons fokus te behou en op U te vertrou. Help ons om ons nie te steur aan mense wat net vuur spoeg nie. Help ons om onsself gereeld te ondersoek sodat ons nie in die gat trap om ander te bespreek nie. Help ons om ons werk goed en deeglik te doen, sodat ander nie ’n vinger kan wys nie, maar kan sien hoe dit gedoen moet word. Amen