God se Woord in vandag se woorde

Die regte melk


My dogter is ’n spraakterapeut. Die veld van ’n spraakterapeut is baie wyer as net om vir kinders wat sukkel om te praat te help om reg te praat. Daar is verskillende rigtings waarin gespesialiseer kan word.

Een daarvan is laktasie. Dis waarin my dogter spesialiseer. Ek het verbaas gestaan oor die nuwe wêreld wat deur haar oë vir my oopgegaan het. Ek het nooit geweet dat vroeggebore babatjies nog nie die natuurlike funksie om te suig ontwikkel het nie.

As ’n baba dus vroeg gebore word, moet terapeute die kinders help om hul suigaksie te ontwikkel. Hulle moet die moeders help, want die meeste van die kere weet hulle ook nie wat om te doen nie.

As die babatjie nie gehelp word om die suigaksie te ontwikkel nie, kan die babatjie doodgaan. Die moedersmelk is lewensbelangrik. Dit het genoeg voedingstowwe om die baba te laat groei.

Wat verder interessant is, is dat die moeder se melk verander soos wat die baba groter word en ander voedingstowwe benodig. Dit is darem wonderlik hoe God al die dinge inmekaar laat pas.

Ons, as kinders van God, het ook melk nodig, dis nou geestelike melk. Soos ’n baba melk nodig het om te oorleef, so het ons geestelike melk nodig om as kinders sterk te word in die wêreld.

2’n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ’n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is.

Moedersmelk is skoon, daar is geen kieme in nie. Dis suiwer en nie besmet wat ’n siekte kan veroorsaak nie. Die Woord van God is suiwer en dit is na dié woorde van God wat ons moet hunker.

In ons wêreld is daar baie ondervoede babas en vele gaan dood omdat hulle nie die lewensbelangrike moedersmelk of enige kos kry nie. As ouers van kinders wat vroeg gebore word nie weet dat die baba se suigfunksie nog nie ontwikkel is nie en as hulle nie hulp daarmee kry nie, is die kans goed dat die baba nie gaan oorleef nie.

Ons moet sorg dat ons wat ook maar in baie opsigte nog babas in die geloof is, die regte voeding ontvang. Hoe kan ons as kinders van God oorleef as ons nie God se kos elke dag eet nie?

Ons het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons kos inkry. Ons moet die regte geestelike kos inkry, sodat ons kan groei. Onthou, babas kan nie veel vir hulself doen nie. Dit is eers wanneer hulle groter is dat hulle na hulself kan kyk en dan vir ander kan help.

Dit is kinders van God se roeping. Ons is op die aarde geplaas om ’n verskil te maak. Ons moet volwasse word om ’n verskil te maak. Daarom moet ons sorg dat ons die regte geestelike kos inkry. Gereeld, sodat ons volwasse Christene is wat ’n verskil maak orals waar ons gaan.

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Watter geestelike kos maak jy bymekaar?
Kry jy genoeg in?
Waar moet jy nog gaan kry?

Gebed
Vader, ek is dors vir die geestelike kos wat ek net by U kan kry. Voed my met U Woord sodat ek geestelik sterk kan word. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek