Die res is geraas
Hoop 2017 is ‘n jaar vol vrede en baie lag!
Ons kuier nog vir ‘n paar maande by Paulus en sy briewe. Hy gee ons ’n vinnige kykie in sy BC (before Christ) dae. Voorwaar ’n voorbeeld vir ander om na te volg. As daar in Paulus se kerk ’n kompetisie moes wees vir die beste voorbeeld van ’n hoogheilige sou Paulus dit seker elke jaar gewen het.
Kyk net na Paulus se lewe:
4Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net.
- Ek is deur en deur ’n Israeliet.
- Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word, is ek op die agtste dag besny.
- Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet.
- Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie.
- Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom.
Not too shabby, dink ons almal hardop. Maar dit hou nie hier op nie. Paulus neem sy geloof so ernstig op dat hy bereid is om te moor daarvoor:
6In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie.
Maar toe gaan Paulus se oë oop en hy sien die lig raak. Hy kom van aangesig tot aangesig in kontak met die Gans Andere en sy hele wêreld draai 180 grade om:
7Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het.
Alles wat voorheen vir Paulus belangrik was, die onderhouding van al die wette en wat nog als, raak skielik so onbelangrik. Hoekom? Want hy het vir Jesus ontmoet. Wanneer jy Jesus se wêreld betree, raak alles anders niks.
Ek sit vroegoggend langs ’n lagoon. Die visse spring een vir een uit die water. Ek probeer verstaan wat beteken die teks vir my. Dit slaan my skielik voor my bors en ek skrik eintlik toe ek ’n prentjie van my eie lewe sien. Ek besef dit gaan nie oor hoeveel mense op die Kruispadverspreidingslys is nie. Dit gaan nie oor hoeveel gebedsversoeke ons per dag hanteer nie. Dit gaan nie oor hoeveel mense ons per dag pastoraal bystaan nie. Dit gaan nog minder oor hoeveel keer ek kerk toe gaan of selfs wat ek vir ander mense doen. Alles, ja alles, gaan eintlik net oor Jesus.
So maklik trek aardse dinge, al is dit ’n bediening of kerk, jou aandag af van jou verhouding met Jesus. Die heel belangrikste gebeurtenis in ’n mens se lewe is jou verhouding met Jesus. Die res is geraas, soos ’n vriend van my altyd sê.
Ek besef weereens dat daar baie ander dinge my lewe is wat belangriker as my verhouding met Jesus is. Dit is presies wat die duiwel doen. Hy jaag ons aan om meer te doen vir die Here. Meer tyd te spandeer om goed te doen vir ander en in die proses word ons weggelok van ’n intieme verhouding met Jesus.
En weereens het ek in die gat getrap. Ek sit vas in die wip.
Kom ons gryp die uitdaging met albei hande. Kom ons raak bewustelik ontslae van die geraas en kom ons sit al ons energie in ’n kragtige, intieme verhouding met Jesus.
Toe!
Om oor na te dink
Wat is die geraas wat jou weglok van tyd met Jesus?
Hoe kan jy van die geraas ontslae raak?
Wat is vir jou belangriker as jou verhouding met Jesus?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ek besef dat my lewe te veel geraas het. Daar is so baie ander dinge wat baklei vir my tyd. Ek begeer met alles in my ’n intieme verhouding met U. Help my om U weer in die middel van my lewe te kry. Amen