Die seën reën neer
Ons gesin het die tradisie om Sondagaande saam te sit en ons seëninge te tel. Dit is ongelooflik om te sien hoe baie ekstra goed God so deur die week aan ons gee. Deur die loop van ’n besige week sien mens dit nie raak nie en daarom is dit nodig om as gesin te gaan stilsit sodat ons mekaar kan help onthou van die dinge wat ons sommer net so uit liefde ontvang het.
Ons kyk een aand na mense se kinders en hulle kom laai net ’n klomp bederf hier af: pakke chips, koeldrank, 2 DVD’s en natuurlik vir my ’n pak Noordwes-tjops. Dis nou van daardie waarin jy die Karoo bossie proe. Ouma bring ’n mandjie vol versnaperinge vir die kinders aan. Ons daag by iemand se partytjie op en dit loop uit op aandete en selfs die hond kry die lekkerste bene. Dan voeg die jongste by: Pappa, die reën is ook ’n seëning, want nou hoef Pappa nie weer die swembad vol te tap nie! Dit is alles seëninge wat sommer so langs die pad uitgedeel is in ons gesin se week.
Dit is die Here wat op ’n besonderse manier vir ons almal net uitdeel en uitdeel en uitdeel. Sommer so verniet. Sonder ’n prys om te betaal.
Paulus is hier aan die begin van sy brief ook besig om die ouens van Korinte op al hulle seëninge te wys: 4Ek sê altyd vir God dankie vir al die goeie dinge wat Hy so onverdiend vir julle gee. Ek praat van alles wat julle gekry het vandat julle Jesus Christus leer ken het. Hy het letterlik alles vir julle gegee wat julle nodig gehad het. Soos God vir die kerk en die mense van Korinte gesorg het met liefde en genade en dit wat hulle ook al nodig gehad het, so sal God vir ons ook sorg. Dit wat ons nodig het om in Hom te bly glo, dit wat ons nodig het om sy Boodskap uit te leef, dit wat ons nodig het om te lewe, sal God vir ons elkeen gee.
Kyk ’n bietjie om jou rond. Hoeveel meer het jy nie as die ou aan die ander kant van die treinspoor nie? Daarom moet ons dankbaar wees. God gee vir jou genoeg en nog meer. Selfs meer as net aardse besittings. Kyk na die groot eerste prys wat ek en jy reeds gekry het: die Ewige Lewe. Sjoe, mense. Besef ons regtig die groot geskenk wat Jesus vir ons aan die kruis gegee het?
Maar die seëninge hou nie daar op nie. God kom gee nou vir jou ’n groot belofte: 8Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê. 9Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Die mense wat op God vertrou, staan voor in die ry om God se guns te ontvang. Ja, vir die wat in die weë van God stap, stort Hy sy gawes in oorvloed uit.
Dit gaan goed met die mens wat binne God se wil leef. Nee, dit beteken nie dat ons nooit die wind van voor gaan kry nie. Dit beteken nie dat ’n krisis nie so nou en dan aan die deur gaan klop nie. Die belofte is egter dat God ons ook sal toerus om deur die swaar te stap en aan die ander kant uit te kom.
As jy êrens hier binne jou ’n stuk bekommernis het of onseker is oor hoe jy gaan deurkom, of nie weet waar die paaiement se geld vandaan gaan kom nie, kom gee God vir jou ’n belofte: Hy sal jou nie los nie. Dit wat jy nodig het, sal God vir jou gee! Let net op dat dit nie altyd alles is wat ons wil hê nie, maar eerder dit wat ons nodig het.
Kom ons wees eerlik. Ons is geseënd. Geestelik, fisies, orals. Kom ons wees dankbaar en ons deel so bietjie van ons seën uit aan ander, want hulle verdien dit net so min soos ek en jy.
Om oor na te dink
Tel jy ook jou seëninge?
Noem sommer ’n paar in jou gedagtes.
Vertrou jy dat God jou sal seën?
Gebed
Onse Vader wat in die hemel is. Dankie dat U na ons omsien. Dankie dat U ons die gawe gee om in U te glo. Dankie dat ek een van die is wat uitverkies is. Dankie dat U vir ons so goed is en ons nooit alleen los nie. Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. Eintlik sien ons nie eens altyd al die seëninge wat op ons reën, raak nie. Daarom val ek nou in eerbetoon voor U neer en roep uit: dankie God. Dankie vir alles wat ons uit U hand ontvang en ook nog sal ontvang. Amen