Die Skepper weet alles
Ek het ’n ou, geroeste 4×4-wa gekry. Renata het botweg geweier dat ek dit vat en gesê sy sal nooit in so ’n wa slaap nie. Maar ek ken haar. Ek weet sy kan nie vorentoe kyk nie. Sy kan nie sien hoe die wa kan lyk as dit oorgeverf is en weer splinternuut is nie.
Net na Pinkster se sewe dienste in ’n week, besef ek, ek moet my kop skoonmaak. En watter beter manier is daar as om agter die skerms uit te skuif, onder, agter en rondom die wa in? Ek draai elke liewe skroefie uit. Boor elkeen van die duisende (of so voel dit) klinknaels uit. Totdat net die as en die wiele oorbly.
Dit het my drie dae geneem.
Ek neem die onderstel in vir galvanisering en die res kry ‘n onderlaag en word gespuitverf. Toe begin die proses van inmekaarsit. My groot vriend daar bo in Gauteng wil net weet hoeveel spaarparte daar gaan oorbly. My ander tjommie van Aranos sê dit maak nie saak nie, ry net altyd die parte saam …
Dit was voorwaar ’n wonderlike projek en nou dat dit weer nuut lyk, sê Renata sy sal met die wa gaan kamp en nogal ook daarin slaap …
Ek weet nou presies hoe die wa werk. Ek weet waar die moeilike gedeeltes is en ek weet ook hoe ek moet maak om by hulle uit te kom. Ek weet waar plekkies is wat ander mense nie eers kan sien nie.
Hoekom? Want ek was daar toe dit uitmekaargehaal is en ook toe dit inmekaar gesit is. Wel, eintlik het ek nie net die T-hemp nie, ek het ook die merke op my hande waar ek gekap en geslaan is. Ek het selfs twee mote om te wys waar die slypmasjien geglip het.
Soos die Engelsman sê: “I know the ins and outs of this one.”
So is God oor ons. God ken elke hoekie en draaitjie van ons, want Hy het ons gemaak. Hy weet presies waar ons vate loop. Hy ken elke mikrometer van ons breine. Hy weet hoe ons breingolwe werk. Hy weet wat ’n virus doen en Hy weet ook wat die virus se spoed kan breek.
God weet wat ons motiewe is en hoekom ons dinge doen of nie doen nie. God het ons beplan. Hy het ons ontwerp. Hy het ons aanmekaargeweef. Stukkie vir stukkie. Vir ons elkeen het Hy ’n droom.
En dit vertel ’n groot storie van hoe groot ons God is! Dis asemrowend om ’n klein prentjie te kry van hoe groot God werklik is: 13God weet alles wat in die wêreld aangaan. Net mooi niks kan vir Hom weggesteek word nie. Hy sien en weet alles asof dit voor Hom op ’n tafel uitgepak is. So sal ons ook voor Hom moet staan en antwoorde gee oor wat in ons lewe aangaan.
Soos ek alles ken van die wa wat ek oorgedoen het, ken God ook alles van ons. Daarom moet ons weet dat daar niks is wat ons vir Hom kan wegsteek nie. Alles word voor Hom uitgepak.
Nee, ons moenie bang wees daarvoor nie. Eintlik moet dit net ’n aansporing wees om te lewe soos die Een wat ons geskep het, gedroom het ons sal lewe.
Teks
Hebreërs 4:12-16
Om oor na te dink
Besef jy hoe groot God regtig is?
Besef jy dat Hy elke hoekie en draaitjie van jou binneste ken?
Maak dit jou bang?
Gebed
Vader God, U is so groot. Hoe kan U nog aan die mens dink? En tog kan U nie anders nie, want U het ons elkeen gebou. U droom oor ons. Help ons om saam te droom en die droom uit te lewe. In Jesus se Naam, amen.