God se Woord in vandag se woorde

Die strappie van die helmet


Efesiërs  6:10-20

’n Vriendin van ons sit ’n kind op ’n poegie agterna. Sy wys die kind moet aftrek. Verbaas stop die dogter en wonder seker hoekom die tannie haar aftrek. Half kwaai sê ons vriendin vir die dogter dat sy dadelik die strappie van haar helmet onder haar ken moet vasmaak.

Net die vorige dag het iemand voor hierdie vriendin van ons se seun ingery. Soos hy deur die lug getrek het, het sy helmet afgeval en hy het die voertuig met sy kop getref. Die kar is afgeskryf en hy is verlam. Na baie maande se baie hard werk begin hy effens regop staan. Sy lewe is vir ewig verander, net omdat die helmet nie sy werk kon doen nie.

Vir die geestelike oorlog is die helmet net so belangrik. Dit moet styf op ons koppe sit en die strappie moet goed onder ons ken vasgemaak wees. As die helmet tydens ’n onderonsie met die vyand afval, sal dit ons lewens vir altyd verander.

Die geestelike helmet word soos volg beskryf: 17Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie; nee, jy is gered. Dit is soos ’n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm. Die dinge in jou kop moet reg wees vir oorlog.

Baie sterk sportspanne het al die spit sleg afgebyt teen ’n swakker span. Hoekom so? Want hulle koppe was nie reg nie. Dalk het die sterker span gedink hulle kan nie verloor nie of hulle het gedink dit gaan ’n maklike een wees. So kan ’n mens jouself maklik misgis, nie mentally reg opdaag nie en voor jy jou kom kry, word die oorwinning omgedraai in ’n verloor.

Net so moet ’n soldaat, wat homself voorberei vir oorlog, se kop reg wees vir die stryd. ’n Soldaat wat glo dat hy nie kan wen nie, gaan heel waarskynlik nie wen nie. ’n Soldaat wat nie hoop het nie en nie glo dat die oorlog gewen kan word nie, sal nie eens opdaag vir die stryd nie en sommer by voorbaat die handdoek ingooi.

Ons moet sorg dat ons koppe reg is vir die stryd. Ons moet seker maak dat ons voorbereid is. Dit doen ons deur te glo dat ons reeds gered is. Die stryd is klaar gewen. Die aanvalle is net die laaste stuiptrekkings van iemand wat reeds oorwin is. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het hy die stryd teen die bose gewen.

Die helmet beskerm ons ook nie teen verkeerde gedagtes nie. As ons kop met verkeerde gedagtes gevul word, is die kans dat ons op verkeerde plekke eindig uitstekend. Wanneer ons egter ons gedagtes vul met die hoop en wete op verlossing, is daar nie plek vir verkeerde gedagtes wat ons van die pad af kan trek nie.

Kom ons maak seker dat die strappie van ons helmet stewig vas is. Kom ons hou stewig vas aan die wete dat ons deur Jesus se kruisdood verlos is van ’n ewige dood. Kom ons jubel en dank God, want dan is daar nie plek vir die skewe leuens van die duiwel nie. Dan sal ons elke stryd wen. Dan sal ons vreugde ervaar en ’n vol lewe leef.
Om oor na te dink

Is jou strappie vas?

Is jou gesig en kop beskerm?

Leef jy so?
Gebed

Here, ek besef maar net weer dat dit ’n leeuwêreld daar buite is en dat ons onsself sal moet staal teen die aanvalle van die bose. Dankie dat U dit vir ons maklik maak. Dankie dat ons kan hoop en vertrou en kan weet dat U reeds oorwin het. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek