Die suurdeeg wat die handrem optrek
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 5:6-8
Ons het deeg ontdek by die Spar. Elke keer as ons braai, word daar eers Spar toe gery om ’n sakkie deeg te gaan koop. Dit word dan in ’n klein bolletjie gerol en op die kole gebraai. Met lekker appelkooskonfyt en ’n stuk kaas smaak die roosterkoek sommer bo-baas.
Eendag het iets voorgeval en ons kon nie braai nie. Van die deeg het ons heeltemal vergeet en toe ons uiteindelik daarby uitkom, het dit so gerys dat daar nie meer genoeg plek in die bak was nie. Die deeg het begin om die deksel te lig.
Sonde werk ook soos suurdeeg. Dit begin by ’n klein saadjie, maar raak later so groot dat daar nie meer plek is vir die doen van die goeie nie 6… ’n Mens sit ’n klein stukkie suurdeeg in ’n groot bak deeg en dan trek daardie bietjie suurdeeg deur al die deeg en laat dit mooi rys. So is dit met sonde. ’n Klein bietjie sonde in die gemeente krap die hele gemeente deurmekaar.
As jy een of ander verkeerde ding doen, versprei dit soos pes deur jou hele bestaan. Die klein sondetjie bevlek alles in jou. Voordat jy kan keer, raak dit ’n handrem wat die hele tyd aan is en keer dat jy regtig die dinge van God kan doen. Dit breek ’n man se spoed en werk met passie in op jou gemoedstoestand. Later voel jy nie meer goed genoeg nie en jy wil ook nie meer in God se teenwoordigheid kom nie.
Dit is daarom dat Paulus so ernstig is en vir ons die opdrag kom gee: 7Raak asseblief ontslae van al die verkeerde dinge wat in die gemeente soos suurdeeg werk. Snuffel elke sonde uit en gooi dit uit die gemeente uit soos die mense van ouds alle suurdeeg uit die huis uitgegooi het voor die paasfees.
Ons moet begin opstaan teen die aanval van die duiwel. Dit is besig om ons terug te hou om ’n verskil te maak in die samelewing. Daar is mense wat baie swaar kry in die wêreld en God wil hê dat ek en jy daardie mense moet help. Met die handrem van die sonde wat die heeltyd opgetrek staan, mis ons nie net uit om vir ander iets te beteken nie, maar daar word ook ’n groot stuk van ons vreugde en vrede gesteel.
Hier is ’n opdrag vir my en jou: Maak konstruktiewe planne om die sonde te systap. Binne-in ons elkeen is daar ’n knoppie vir reg doen en ’n knoppie vir verkeerd doen. Ons weet wanneer ons verkeerd doen en wanneer ons op die verkeerde pad is. Kom ons span al ons energie in om die regte dinge te doen. Kom ons vul onsself met die regte denke, want dan sal die regte doen dinge vanself kom. Joyce Meyer het gesê dat as ons nie ons gedagtes vul met God se goed nie, gaan die duiwel dit met sy dinge volprop en dan is dit nag!
Watter sonde is daar wat jy maar net nie uit jou sisteem kan kry nie? Daardie een ding wat jy weet jy nie moet doen nie, maar as jy jou weer kom kry, begin hy oor te neem soos suurdeeg. Jy wil dit regtig nie doen nie, maar…
Onthou, die klein stukkie sonde is soos suurdeeg. Dit stoot later deur jou hele lewe, met die gevolg dat die handrem opgetrek word. Maak los die handrem. Gooi uit die suurdeeg. Maak skoon en vee die sondes uit jou lewe. Dan sal jy ’n onmisbare skakel in God se koninkryk word.
Om oor na te dink
Van watter sondes moet jy ontslae raak?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Hoe kan God se dinge in jou lewe meer sigbaar word?
Gebed
Vader, ek weet dat die sonde soos suurdeeg rys en ’n mens se hele lewe oorneem. Ek weet ook dat dit my spoed breek en keer dat ek voluit vir U kan lewe. Ek wil regtig nie meer sondig nie. Help my om planne uit te werk sodat ek nie elke keer oor dieselfde hekkie struikel nie. Help my om planne te maak en voluit bruikbaar te wees vir U. Amen