Die toelatingsvereistes totaal verander – Romeine 3:21-31
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 3:21-31
Die laaste verse van Romeine 3 bevat soveel goeie nuus vir ons klomp sondige mense dat ons weer ’n keer hier moet stilstaan. Dit is sulke wonderlike nuus om te hoor dat Jesus die reëls vir toegang tot die hemel kom verander het. God het ’n streep deur die ou wette getrek. God het gesien dat die oues nie werk nie. Dit was eenvoudig te streng en die mens nie by magte om te kwalifiseer nie. Eintlik het die sonde die mens outomaties gediskwalifiseer. By die hekke met die wet as sleutel het die sonde gekeer dat die slot oopgesluit kan word.
God maak gelukkig ’n ander plan. God kom haal die sleutel uit die mens se hand. Hy kom haal die verantwoordelikheid van die mens om sy plekkie in die hemel in te werk uit sy hande en kom plaas dit vierkantig op Jesus se skouers. Kan ’n mens sê dit is nou Jesus se verantwoordelikheid om die hekke van die hemel vir die mens oop te sluit? Ja, Jesus staan nou met die sleutel van die hemel in sy hand. Hy het die pos as sleuteldraer daar aan die kruis verdien.
Is dit nie wonderlike nuus nie? God verander die toegangsreëls na die hemel. Hy neem die verantwoordelikheid van die mens se skouers en plaas alles op die skouers van Jesus. 27Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen.
God kyk glad nie na ons dade wanneer Hy die besluit moet neem of Hy ons in die hemel moet toelaat of nie. Nee, dit is hoe dit in die tyd voor Jesus gewerk het. Toe is die mens se dade teenoor die wet van God geplaas en as die ou se dade binne die hoë mure van die wet gebly het, is hy toegelaat om die hemel te mag in.
Ek is so dankbaar vir die nuwe toegangsreëls, want ek besef maar net dat ek moeilik toegelaat sou word as daar na my dade in vergelyking met die wet gekyk sou word.
Die beste nuus ooit: 28God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie. 30Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie.
Weer word dit bevestig dat God die vereistes van toegang tot die hemel verander het. Wat moet ons dan doen? Ons moet glo. Ons moet glo en leef dat ons dade nie ons toegang tot die hemel gee nie. Ons moet glo dat Jesus nou die sleutel het om die hemel oop te sluit. Ons moet glo dat God ons vryspreek van al ons sondes, ja al ons sondes, net omdat ons in Hom glo, maak nie saak wie jy is of in watter familie jy gebore is nie.
Dit is die wonderlikste nuus vir my as sondaar mens. Daarom is ek nou opge-charge om ’n vry lewe daar buite in die wêreld te gaan lewe. Ek kan nie anders as om voluit vir God te gaan lewe nie. ’n Lewe van dankbaarheid vir Hom wat die vereistes om in die hemel te kom, heeltemal verander het. Hy het dit uit my hande geneem en in sy eie hande geplaas en met liefde sluit Hy die slotte oop vir my wat in Hom glo!
Dank God!
Om oor na te dink
Glo jy?
Glo jy dat God die toelatingsvereistes om die hemel te in, verander het?
Hoe dankbaar is jy?
Wys jou lewe dit?