God se Woord in vandag se woorde

Die tong se default settings


Ek was ’n bietjie swaar op honde gewees, maar dit was nie my skuld nie. Ek was altyd baie lief vir my honde en het met hulle gepraat so asof hulle presies kon verstaan wat ek vir hulle sê.

So groet ek die honde wat in die son voor die kantoor sit. Dit lyk of hulle so uit ’n hoogte my groet, met ’n oogknip hier en daar. Ons verstaan mekaar. ’n Paar minute later is ek weer uit en groet beleef.

Ek klim in my bakkie en ry agteruit en ek oor net ’n vermomde blaf, toe weet ek. Een van die honde het agter my aangehardloop. Ek het nie gesien nie en ek moes al weer na die stoor ry om ’n graaf te gaan haal. Ek maak die gat in die vlei langs die ander grafte en voel sleg.

Hoe raak ’n mens so lief vir ’n dier? Dis juis die liefde wat die toemaak van die gat net erger maak.

Diere het egter nie van die begin af so in ’n mens se hart kom kruip nie. Aan die begin was hulle wild en eintlik ’n gevaar. Maar êrens langs die pad het die mens dit reggekry om hulle mak te maak.

Selfs die groot perde wat so sterk en kragtig is, kry die mens onder sy beheer en met ’n trekkie aan die teuel maak die dier ’n ommeswaai en gaan in die rigting wat die ruiter wil hê.

Die mens is goed daarmee om diere mak te maak, maar om een of ander rede sukkel dit met die tong: 7Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie. 8Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik.

Die tong se default settings trek na die verkeerde kant van die grens. Die default settings, soos dit daar uit die tuin van Eden gekom het, saai verwoesting en ja, soms ook die dood.

Die tong is die een waarmee ons sukkel om mak te maak. En dit moet ons besef. Dis eintlik ’n fout in die ontwerp. Of eerder, dit was die mens se skuld dat ons deesdae almal die wêreld inkom met ’n wapen in ons mond.

Wanneer ons besef ons sit hier met iets waarvan ons die settings moet verander, moet ons bewustelik planne daarvoor beraam. Dan moet ons dit in werking stel. Dalk moet ons wagte aanstel om die werk namens ons te doen.

Kom ons sit ons geld waar ons mond rondloop en begin doelbewus mooi met mense praat. Laat ons ’n punt daarvan maak om net positiewe woorde los te laat en die negatiewe maar eers daar in die fabriek te los.

Teks
Jakobus 3:1-12

Om oor na te dink
Is jou tong nog op sy default settings?
Waar glip jou tong nog uit?
Wat kan jy doen om te keer dat jou tong glip?

Gebed
Vader, ek weet dat ek soms nog met die tong glip. Ek probeer regtig keer, maar kry dit nie altyd reg nie. Help my tog om my wagte wakker te hou en so nie ander seer te maak met my tong nie. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek