God se Woord in vandag se woorde

Die trek uit die modder – Romeine 3:21-31


die trekKliek hier om die teks te lees: Romeine 3:21-31

Ons moet weer ’n keer stilstaan by die hart van die Evangelie. Die afgelope paar maal se onderstreep en bold maak van die sonde het my regtig sleg laat voel. Ek wonder of jy ook begin wonder het hoe God nou nog vir jou kan liefhê. Maar gelukkig eindig ons godsdiens nie daar nie. Dit is juis die begin van die Evangelie! Die Evangelie soek so ’n breakdown om te begin lewe in jou lyf. Eintlik soek dit ’n einde sodat dit weer nuut kan begin. Dalk ’n breakdown voor die break through?

21Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. 22Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Sommer so, jy word vrygespreek, jou las word eensklaps van jou rug afgehaal, die bande van die sonde wat jou so benoud gemaak het, word net afgeknip!

23Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. 24Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. 25Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie.

Dit is wat genade beteken. Nie uit wat ons doen nie, niks wat ek verdien nie. Niks wat van my kant af kom, kon die goeie daad van God in beweging sit nie. Nee, alles kom van God se kant af. Besef jy die groot liefde wat God vir jou het?

26… God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. Dit is verby, uitgevee, opgeskeur en weggegooi! Dit is asof jou sondes glad nie meer bestaan nie. Op ’n tyd wat ek so vasgeval lê in die sonde, op ’n tyd dat die sonde my ontneem van alle kragte, kom God en Hy verlos. Hy kom maak ons los van al die bande van sonde. Om één rede: Dit is Sy liefde vir ons wat Hom dit laat doen. Om dié rede kies Hy sy Seun in jou en my plek.

Ons het ’n paar dae terug gelees van God wat regverdig is en nie ’n keuse het as om wel die sonde te straf nie. My en jou sondes moet gestraf word! In plaas van dat Hy vir my en jou straf oor al die sondes wat ons doen, neem Hy vir Jesus en pak al ons sondes op Hom, sodat sy liggaam soos ’n lam doodgemaak moet word, om sodoende ons sondes te kon uitvee. God het ons so ontsettend lief. God is regtig intens lief vir jou.

Jy kan nou as ’n vry mens opstaan. Jy kan jou pakkie hier los, jou bagasie afhaal en weet God het jou vergewe. Dit is net belangrik om nie weer die pakkie op te tel as jy opstaan nie. Baie maal is dit ons wat onsself nie kan vergewe nie en dan sleep ons die pakkie weer saam. En dit is presies wat die duiwel doen om jou van jou geluk te ontneem. Nee, dié een is darem te groot. God sal my nooit vir dié een vergewe nie en boef, daar begin jy weer die bagasie saamsleep. Nee, moenie na die duiwel luister nie. God het vir al jou sondes gesterf. God vergewe jou vir alles. Vergewe nou jouself ook daarvoor.

Lewe vandag ’n lewe van ’n verloste. Een sonder bagasie.

Om oor na te dink

Watter pakkie moet jy nou los?

Wat kan jy doen om jou dankbaarheid te wys? Gee ’n praktiese doen ding.

Miskien is dit nou ’n goeie tyd om vir God dankie te sê!

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek