God se Woord in vandag se woorde

Die tyd is reg


2 Korintiërs 6:1-13

Dit is vir my baie snaaks hoe ’n mens altyd nuwe dinge op ’n Maandag wil begin. Wat maak Maandag dan so magies? Wanneer ’n mens sukkel om in jou gunsteling broek te kom, staan die skrif in vet letters teen die muur: Jy sal iets moet doen aan jou gewig. Jy besef dit en jou eerste reaksie: Maandag is die dag. Ja, Maandag is dit klaar gespeel met suiker. Van Maandag af sit ek nie weer my mond aan brood nie. Maandag is D-dag, want dan is dit geen stysel meer vir my nie.

En die naweek voor die Maandag moet die versoekings uit die kaste. Ons prop ons kieste vol van die verkeerde sjokolade en koekies en alles wat op verkeerde plekke in ons lywe sit, want Maandag is D–dag. Dit werk so met alle gewoontetjies wat ons wil afleer. ’n Mens kan mos nie in die middel van die week ophou rook nie? Nee, die naweek lê nog voor, maar Maandag. Maandag is die beste dag, want…

So kom en gaan Maandag en teen die middel van die week, wanneer ons weer sukkel om in die gunsteling broek te kom of die hoesery raak weer erg, dan dink ons Maandag. Maandag is die dag…

Gelukkig werk God nie so nie. God stel nie uit na Maandag of na Nuwejaarsdag nie. Nee, God se timing is altyd presies reg. Daagliks staan ek verwonderd oor mense wat sê dat die boodskap op presies die regte tyd deurgekom het. Keer op keer laat mense weet dat die deurbraak op presies die regte tyd gekom het. Paulus haal ’n stuk uit Jesaja 49:8 aan om te getuig oor God se timing wat altyd reg is: 2… “Op presies die regte oomblik het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy My bitter nodig gehad het, het Ek jou gehelp.” Weet dat God altyd op presies die regte tyd vir jou sal deurkom.

Maar meer nog – God se verlossing is hier. Dit is tyd dat ons die verlossing van God deel maak van ons lewe. Nóú is die tyd. Nie Maandag nie. Of nie Nuwejaarsdag nie. Nee, nóú! 2… Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers laat glip nie.

En wil byvoeg: Môre kan dalk te laat wees. Maandag is dalk hééltemal te laat.

God se tyd van redding is nou die regte tyd en ons moenie die kans laat verbyglip om vrede te maak met God nie. Dit is dalk ’n stuk sonde waarvan jy weet jy ontslae moet raak. Dalk is dit iets wat jy doen waarmee jy moet ophou. Dalk is dit om eenvoudig weer terug te keer na God. Dalk is dit nou die tyd om jou ou manier van lewe te staak en op ’n nuwe pad saam met God te stap. Dalk is dit nou die tyd om met daardie ander persoon te gaan praat wat al so lank op jou hart druk.

Die tyd is nou. Staan nou op en doen dit. Môre kan dalk net te laat wees en dan is daar nie weer ’n kans nie.

God het ons op die regte tyd gehoor. God het op presies die regte tyd uitkoms gebring. Dit is nou vir jou die regte tyd om die regte ding te doen.

Om oor na te dink

Waarmee sukkel jy?

Glo jy dat die tyd nou reg is?

Wat moet jy nou gaan doen?

Gebed

Vader, ek glo daarin dat U altyd op tyd is. U bring op presies die regte tyd die regte uitkoms. Ek weet nou is die regte tyd vir my om ook te doen. Gee my die krag en wysheid om dit te doen. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek