God se Woord in vandag se woorde

Die verstoppings in die pyp


Paulus is so bietjie bang om weer die pad aan te pak na Korinte toe. Hy is onseker wat hy daar gaan kry. Hy is bang dat daar 20… ’n Groot gestry, jaloesie, die een argument op die ander, verdeeldheid, ’n rugstekery, skinderveldtogte, hoogmoed en chaos… sal wees. Paulus is bang dat hy 21… van voor af ontsteld raak oor daardie mense wat aanhou om dieselfde sondes te doen. Hy het al soveel energie in die klomp mense ingepomp, maar daar is steeds sommiges wat eenvoudig net nie wil ophou met hulle verkeerde dade nie.

Dadelik wonder ’n mens hoekom die mense van Korinte so stuck-up was. Hier het hulle die groot Godsman wat hulle kom wys hoe moet ’n kind van God leef en tog kies hulle bewustelik teen die boodskap wat hy bring. Hulle hoer en rumoer en gaan op hulle ou pad voort. Hoekom breek hulle dan nie met die ou manier van doen nie? Hulle weet tog wat die regte pad is om te stap.

Maar voor ons te veel vrae aan die mense van Korinte vra, kom ons vra sommer die vrae vir onsself. Ons weet mos wat reg en verkeerd is. Of weet ons regtig? Ja, daar is dinge wat ons doen wat nie die wil van God is nie. Ons weet dit hier van binne af. Ons wil dit nie doen nie, maar as ons ons weer kom kry, het ons weer in die gat getrap. Dan voel ons sleg en belowe sommer kliphard om dit nie weer te doen nie. Tog, net om die volgende draai, as die omstandighede gunstig is, trap ons weer in dieselfde gat.

As Paulus hier by ons moet opdaag, vermoed ek hy gaan ook ontsteld wees. Mismoedig sal hy sy arms in die lug gooi en mismoedig sal hy wonder waar alles verkeerd gegaan het.

As Jesus nou by jou voordeur opdaag, hoe sal Hy reageer op jou lewe en die manier hoe jy dag tot dag leef?

Ja, dalk hoer en rumoer ons nie. Dalk leef ons darem nie so ver van die pad af nie, maar doen ons presies wat God van ons verwag?

’n Tyd gelede sit ek onder my karavaan se afdakkie en kyk op na die magtige berg. Die voëltjies fluit en die paddas kwaak. ’n Entjie af hoor ek die water raas oor die stroomversnelling. Hier voor my loop daar ’n klein sytakkie van die rivier. Met die vorige groot massa water wat afgekom het, het die ingang toegespoel. Eintlik het die sytak nou ’n dammetjie gevorm waar geen water kan in of uit nie. Stadig maar seker is die water besig om te vrot. Dit lyk en ruik nie meer lekker nie. Ek en my seun dink hardop saam. Kan ons nie aan die bokant ’n sloot na die rivier se kant toe grawe nie? Dan sal daar weer nuwe water inkom. Maar helaas. Die taak is net te groot.

Is dit nie ook so met ons lewens nie? Ons kom al hoe minder by God uit. Later het Hy nie meer ’n impak op ons lewe nie. Die nuwe water vloei nie meer in nie met die gevolg – dit word vrot. Sonder dat ons dit besef, neem die sonde sy blyplek in en dit ruik nie meer so lekker nie.

Dis dalk weer tyd dat ons rustig word en na ons eie lewens kyk. Ons moet die dinge wat keer dat God se nuwe water in ons lewens loop, gaan uitsnuffel en uitruk. Die dinge waaraan ons so gewoond geraak het om te doen dat ons nie eens besef dat dit in die pad staan nie. Ons moet mense vra om ons te help sodat ons nie weer sal toelaat dat dit die pyp van God se genadewater blok nie. God wil so graag sy nuwe water in en deur ons laat loop.

Wanneer ons dit doen, sal dit nie nodig wees vir ’n gestryery en baie gepratery nie. Jesus sal tevrede wees en ons sal vol vreugde deur die wêreld hol.

Teks

2 Korintiërs 12:14-21

Om oor na te dink

Waar blok die pyp?

Waarvan moet jy ontslae raak?

Hoe gaan jy dit regkry?

Gebed

Onse Vader, vergewe my my sonde. Ek weet dat ek soveel keer toelaat dat verkeerde dinge in my lewe die pyp wat lewe bring, verstop. Help my om dit aktief uit my lewe te verwyder. Help my om planne te maak om nie weer in die strik te trap nie. Vader, maak my vol met U lewende water. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek