Die wêreld se vuil, vetterige hande
Die wêreld is daarop uit om jou weg te rokkel van God af. Die duiwel wil jou vir hom steel. Die heeltyd is daar ’n tweede agenda, verskuilde kragte wat ons van God wil weglok. En ons besef dit nie. Ons besef nie dat ons hele dag gevul word deur goeters, ja soms baie belangrike goeters en tog slurp die goeters ons tyd so in dat daar maar min tyd vir God oorbly. Hoekom? Want die duiwel trek alle stoppe uit om te keer dat ons by God uitkom en sy stem hoor.
Kom ek vat my eie storie van vanoggend. Ek staan vroeg op om lekker tyd met God deur te bring. Ek gaan vanoggend twee ure hê om stil te word en te hoor wat God vir my te sê het. Ek maak alles reg. My Bybel program is op die skerm oop en my woordverwerkingsprogram op die regte plekke om my notas neer te skryf. Net voor ek wegtrek, wonder ek of Kruispad se e-pos stuurprogram nog aan die loop is.
Ek loer gou daar en besef dat ek net gou nog een gebruikersposlys moet laai – die mense moet immers hulle Kruispad kry. In die proses maak ek net gou seker dat die Engelse een ook reg afskop. Toe maak ek net vinnig seker dat dit reg op Facebook gelaai is. My oog vang dat ’n klomp e-posse op ’n string terugkom en ek wonder of ’n e-pos meester êrens weer ’n stopbordjie ingedruk het en gebruikers weer nie die eposse gaan kry nie.
Dit is darem alles God se dinge, dink ek by myself. Dis mos God se bediening en ek werk in sy Koninkryk.
Dit is meer as 30 minute later wat ek weer my oë op die Bybel gooi. En met ’n skok besef ek dat ek so pas van 30 minute se intimiteit met God beroof is. So slinks is die duiwel dat hy selfs God se werk, God se bediening gebruik om my weg te lok van God af. Hoe absurd!
En tog is dit die taktiek. Die wêreld met al sy liggies en skermpies en goedjies lok ons weg, probeer ons die heeltyd gryp en met vuil, vetterige hande wegsleep van God af. Ons moet dit weet en gaan kyk waar die wêreld ons met sy vuil, vetterige hande weglok van God af.
Jesus het juis na die aarde toe gekom om ons van die vuil, vetterige hande te bevry. Dit was van die begin af God en Jesus se plan. Die mens moet beskerm word teen die wêreld. Die mens moet gered word uit die kloue van die wêreld. Ja, dit is presies wat Jesus kom doen het. Hy het nie net die muur tussen ons en God kom afbreek nie, maar ons ook bevry uit die wêreld: 4Jesus Christus het sy lewe vir ons opgeoffer sodat ons sondes nie meer soos ’n muur tussen God en ons staan nie. Hy het dit vir ons gedoen om ons uit die kloue van hierdie sondige wêreld te bevry. Op hierdie manier het Jesus ons God en hemelse Vader se raadsplan tot uitvoer gebring.
Die mense wat nie vir Jesus aangeneem het as Verlosser nie, is nog vasgeval in die kloue van die wêreld. Ons kan die mense maklik herken. Ons kan ook erken word. Ons is die mense op wie die wêreld nie ’n houvas het nie. Of wag! Het die wêreld nie ’n houvas op ons nie? Jaag die wêreld ons nie van die een plek na die ander, sodat ons nie meer tyd het vir ons geliefdes of die mense in nood of vir God nie?
Dis die vuil, vetterige hande van die wêreld wat ons al hoe dieper in haar greep trek. Ja, Jesus het ons van die wêreld verlos, maar om een of ander rede laat ons toe dat die wêreld ons weer nader sleep. God het klaar die onmoontlike gedoen. Dis nou ons verantwoordelikheid om die moontlike te doen: Bly uit die kloue van die sondige wêreld. Moenie toelaat die wêreld haar vuil, vetterige hande om jou kry nie. Gaan soek die goedjies wat jou tyd so steel en gaan sit dit eers voor die deur, sodat jy genoeg stiltetyd saam met God het.
Ek vermoed jy weet nou presies waarvan ek praat.
Teks
Om oor na te dink
Waar steek die wêreld se kloue na jou?
Wat moet jy anders doen?
Waar kan jy stil word voor God?
Gebed
Here, een woord skree vir my: Skuldig. Ek weet ek is skuldig deur toe te laat dat die wêreld sy arms om my sit. Ek weet dat ander goetertjies my tyd met U steel. Ek wil nie weer in die hande van die wêreld val nie. Nee, Here! Ek wil net vir U dien, met alles in my. Amen