God se Woord in vandag se woorde

Dien met alles


Jakobus is die Bybelboek waarvan ek die meeste hou. Seker omdat dit sulke praktiese, ek wil amper sê down to earth riglyne het, wat ’n mens help om reg te lewe. As jy wil weet hoe moet ’n Christen maak; as jy wil weet hoe jou lewe elke dag hier op aarde moet lyk, moet jy die boek van Jakobus lees.

Tog, sê Jakobus self, gaan dit nie net oor lees nie. Jy het nou al die kennis. Jy weet in jou kop wat is reg en verkeerd. Die tyd het nou aangebreek om dit met alles in jou te gaan doen en uitlewe.

Jakobus was Jesus se halfbroer en het, saam met die res van Sy broers, Hom baie gas gegee, soos wat broers maar doen.

Dit was egter toe Jesus aan die kruis sterf, wat Jakobus rêrig besef het waardeur Jesus gaan. Hy was so hartseer oor alles wat hulle aan sy broer gedoen het, dat hy belowe het om nooit weer te eet nie.

Gelukkig vir hom, bars God se genade ook vir hom oop en staan Jesus uit die dood op. Hoe wonderlik moes dit vir Jakobus gewees het om weer sy broer lewend te sien en darem weer te kon begin eet!

Dit is presies hoe Jakobus is. Hy is passievol. As hy ’n ding in sy kop het, los hy geen klip ongeroer om seker te maak dat die opdrag wat hy ontvang het, duidelik uitgevoer word nie. Daarom is die eerste paar woorde in vers 1 so gepas: Van Jakobus. Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien met alles wat hy het.

Jakobus was die hoofleier van die jong kerk in Jerusalem. Die mense het hom ’n bynaam gegee: “James the fair” of “James the just”. Hy was ’n merkwaardige man wat sy hele lewe gewy het om die jong volgelinge van Jesus, wat oor die hele wêreld versprei was, te bemoedig en te help om staande te bly en nie van die pad af te val nie.

Die omstandighede was baie sleg vir die mense wat in Jesus geglo het en Jakobus het dit nie vrygespring nie. Die soldate het hom gegryp en tot heel bo-op die toring van ‘n tempel geneem. Hulle het gesê hy moet Jesus se naam laster, anders gooi hulle om af – net soos wat die duiwel met Jesus gedoen het.

Jakobus was nie dood na die val nie en met gebreekte bene en klippe wat op hom reën soos die mense hom wou doodgooi, het hy nog steeds vir hulle gebid en gevra dat God hulle sal vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie …

’n Merkwaarde man. ’n Voorbeeld vir my en jou. Mag ons ook met alles in ons, die Here Jesus Christus dien. Mag ons ook ander help om saam met ons agter Hom aan te stap. Mag ons ook, wanneer iemand ons te na kom, wanneer iemand ons geestelik, emosioneel of selfs fisies met klippe bestook, hulle vergewe en ook vir ons Vader vra om hulle te vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Mag die reis deur Jakobus vir jou tot groot seën wees!

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Hoe vêr sal jy vir jou geloof gaan?
Dien jy Jesus met alles in jou?
Hoe anders gemaak?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek nie seker is of ek so vêr soos Jakobus sal gaan nie. Tog wil ek U met alles in my dien. Mag ek sterk staan as my geloof getoets word. Mag ek aan U bly vashou, vir altyd. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek