Dik toue van geloof
Ons is besig met ’n kort reeks waar ons kyk na die lewe van Paulus om ons te help om die lewe vandag as ware kinders van God te leef. Timoteus het Paulus ook so nagevolg 10… in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding … Ons staan nou stil by geloof.
Paulus se geloof was rotsvas. Met kettings het Paulus seker gemaak dat sy geloof vasgeanker was aan die Rots, God ons Vader. Die winde kon maar ruk. Die grootste branders kon maar slaan. Die een curve ball na die ander kon maar nader gevlieg kom, maar vir Paulus kon hulle nie van sy voete kry nie. Hy was te stewig vasgemaak aan die Rots.
Ek staan op die kaai in Rotterdam. Ek wag vir ’n water taxi om my na die anderkant te neem. En terwyl ek wag, kom pyl hier ’n verskriklike groot vragskip op my af. Ek skrik my eers boeglam, maar besef toe later dat die skip in die proses is om langs my vas te meer.
Ek het dit nog nooit van so naby gesien nie en ek was gefassineerd. Vanaf daar doer bo van die dek van die skip word toue afgegooi na die manne op die kaai. Sodra hulle dit gevang het, trek hulle sulke dik toue, dikker as my bobene en haak dit om die bolder, dis ’n vet staal anker wat lyk soos ’n vet mushroom.
Op die dek van die skip is daar masjiene wat die toue styf vastrek. Die winde en branders kan maar kom, die boot sal nie ’n stukkie beweeg nie, want dit is stewig aan moeder aarde geanker.
En ek vermoed dis hier waar ons soms in die hek duik met ons geloof. Miskien is ons bote te vêr van moeder aarde om aan vas te klou. Miskien weet ons nie eers van ankers vasmaak nie en daarom dobber ons van die een kant na die ander. As die winde kom en die branders hoog oor ons begin breek, is dit krisis en dit voel asof ons wil sink.
Jy kan maar vir enige seeman vra. As jy op die see is, gaan jy een of ander tyd in ’n woeste storm invaar. Jy moet gereed wees daarvoor. Jy moet weet wat om te doen, anders gaan die storm jou vermink.
Net so in die lewe daar buite kan ons nie net mooiweer en plat water gewaarborg word nie. Die storms sal daar wees. Ons moet voorbereid wees en weet wat om te doen. Die eerste is dat ons ons lewensbootjie se anker aan Jesus vasmaak.
Ons geloof moet ons bou op die oorborrelende liefde wat God vir ons elkeen het. Dis ’n feit soos ’n koei. God is vir ons elkeen so lief dat Hy bereid was om Sy Seun op te offer. Deur genade vat Jesus ons pak. Ja, die pak wat ons moet vat vir al ons sondes, die dood, het Jesus in ons plek kom vat. As ons dus eendag hierdie aarde verlaat, kan ons die ewigheid instap en saam met Jesus aan die feestafels sit. Dit is waarin ons glo.
Hieraan moet ons vashou soos daardie dik toue wat die boot aan die kaai vasanker. Onstuitbaar, onroerbaar is daardie grote skip vasgeanker. Die winde en storms kan maar kom. Sy gaan nêrens heen nie.
Mag ons ons geloofstoue sterker en sterker maak. Mag ons kans sien vir die lewe en sy storms, nie omdat ons dink ons is sterk genoeg nie (want ons is beslis nie), maar omdat ons weet en glo dat ons vasgeanker is aan ons Almagtige Vader en dat Sy Seun Jesus, ons Broer is en dat Sy Gees hier binne ons is en ons al die pad sal bystaan en help om deur enige storm te beur.
Teks
2 Tim 3:10-13
Om oor na te dink
Hoe dik is jou geloofstou?
Wat moet jy anders doen vir jou geloof om jou vas te hou?
Gebed
Vader, ek bely dat U my Vader is. Ek glo dat Jesus vir my sondes gesterf het. Ek glo regtig, al sukkel ek soms as dit so woes gaan. Help my met U Gees om nie toe te laat dat onsekerheid en die wêreld rondom my my geloof steel nie. Ek eer U. Amen.