Dis goed om uit te blink
Dit is altyd belangrik dat almal in ’n span hulle deel bring. Dit help nie die Springbokke het die beste en vinnigste agterlyn en die grootste en rofste voorspelers, maar die haker gooi so windskeef by die lynstaan in dat die opposisie elke keer die bal afneem nie. En in die skrums gaan dit nie veel beter met die haker nie, want van hak weet hy nie veel nie. Dit is baie eenvoudig: As die voories en die agterlyn nooit die bal kry nie, is die kans vir ’n drie onder die pale nie goed nie. Daar moet ’n gebalanseerde span spelers wees en elkeen moet uithaal en wys.
Paulus probeer dieselfde konsep by die jong Christene van Korinte tuisbring: 7Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het. Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom.
Dit lyk my of die ouens al oral tot bekering gekom het, maar dat hulle beursies nog sukkel om tot inkeer te kom. Gewoonlik is dit die laaste hekkie wat ’n mens moet oor. Op ’n manier kan ’n mens seker kyk hoe gesond jou verhouding met God is deur te kyk hoe oop jou hand is.
Tog moet ons nie nou weer so hard konsentreer op die gee, dat ons die ander kante van die munt vergeet nie. Ons moet seker maak dat elke dimensie van ons Christenskap gesond is. Net soos die mense van Korinte moet ons geloof sterk wees. As die woeste winde van die lewe aangerol kom, moet ons vas staan in ons geloof. Net soos ’n hoë boom wat net liggies heen-en-weer wieg as die winde sterk woed en nie bang is vir omval nie, want hy weet sy wortels is goed geanker in die grond. Ja, so moet ons geanker wees in die Woord van God. Ons wortels moet so diep in die skrif ingegroei wees dat die winde van die lewe maar kan kom, ons sal nie mismoedig word nie. Ons sal nie bang wees dat dit ons sal omwaai nie, want ons weet ons is vasgeanker in God se Woord.
Net so moet ons toegewyd wees in ons geloof en nie bang wees om die verlossingsboodskap van Christus uit te dra en uit te leef nie. En hoe maklik is dit nie as ons die liefde wat ons by God gesien en ervaar het, self in die wêreld uitleef nie. Met liefde raak die wêreld anders. Liefde absorbeer kwaai woorde en kan nie kwaad met kwaad vergeld nie. Waar liefde grondvat, verdwyn die nood. Die een aksie volg op die ander. Dit is een proses. As een van hulle ontbreek, breek die hele spul.
Ons weet ons moet gee. Maar gee kom nie maklik as die hele proses nie vlot nie. Daarom is dit so belangrik dat ons aandag sal gee aan elkeen. Ons moet seker maak dat ons reg glo en dat ons geloof in God onwrikbaar vas staan, maak nie saak watter curve balls die wêreld na ons kant toe gooi nie. Ons moet voortdurend met ons neuse in God se Woord sit en sorg dat dit ons verander na die prentjie wat God van ons het. Hieroor moet ons nie skaam wees nie en ons moet dit deel met ander. Dan sal die uitleef van liefde teenoor alle mense ook makliker wees. Dit kry ons reg deur tyd, energie, geld en nog meer te gee.
Mag God se Gees ons lei om te weet waar die regte plekke is om te gee. Mag Hy ons help om ons knypende vingers oop te beur, sodat ons makliker kan gee en so liefde uitleef. Mag ons as span ook orals uitblink sodat ons keer op keer die opponente oorrompel.
Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Hoe lyk jou kennis van die Woord van God?
Waar kan jy van jouself gee en liefde uitleef?
Gebed
Vader, ek besef dat ek op ’n paar vlakke sal moet werk voor ek ook soos die Masedoniërs kan uitblink. Ek weet dat ek nie maklik myself vir ander kan offer as my verhouding met U nie reg is nie. Ek weet dat ek sukkel om te verstaan van liefde as ek nie genoeg tyd in U Woord spandeer nie. Amen