Dis mos God wat hier werk
Ek kry daagliks e-posse van mense wat vir my sê dat die skryfstuk presies op die regte tyd gekom het, want dit is juis wat hulle op daardie oomblik nodig gehad het. My terugvoer is elke keer dieselfde: “Dit moet God wees, want dit is net Hy wat dinge so bewerk dat iets wat ek al ’n paar maande gelede geskryf het, juis in die hier-en-nou-oomblik met iemand wat vêr agter ’n skerm sit, berge versit of ’n stuk verstaan oopbreek. Ja, dis God wat aan die werk is. Soli Deo Gloria!”
God se bemoeienis met die mens hou nooit op nie. God is eenvoudig net te lief vir ons. Dit verstom my om te sien dat God net nie ophou om Hom oor die mens te ontferm nie. Al maak ons droog.
Kyk né, as mense my so in die tande geskop het, sou ek hulle al lankal soos miere doodgedruk het, maar God nie. 6… Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is. God het ons so lief dat Hy sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf sodat ons kan lewe! Wow! Dis ’n God wat hier werk – geen ander wese nie.
Dis jammer dat die lewegewende nuus nie meer so opspraakwekkend is nie. Dis jammer dat ons so gewoond geraak het hieraan dat ons dit nie meer ervaar as God wat aan die werk is nie.
Dalk moet ons onsself uit die gewoel van die wêreld neem en vir ’n tyd lank gaan stil word sodat ons opnuut kan besef wat God vir ons gedoen het. Hopelik sal dit dan tot ons deurdring dat ons hierdie verlossing glad nie verdien nie. Inteendeel – ons verdien presies die teenoorgestelde. God moet ons eintlik uitspoeg en weggooi – dis wat ons verdien. Maar wat kry ons? Liefde, vergifnis en aanvaarding.
Dis mos God wat hier werk! En dit was nie net 2 000 jaar gelede nie. Nee, God werk vandag nog.
Margie skryf:
Die 23ste het my kombuis afgebrand, maar ek glo iemand het besluit my tyd op aarde is nog nie verby nie.
My man het met net ’n tuinslang, tussen die vlamme in die kombuis die vuur geblus. As die vuur ’n fraksie verder gesprei het, was ek, al die diere en my huis daarmee heen.
Na die hele episode glo ek daar bestaan ’n GOD.
Dis mos God wat hier werk!
Of soos Riekie vertel:
Ek was self deur die dal van doodskaduwees, veral as gevolg van my eie onvolwasse en stupid keuses. Maar God was deur dit alles by my. Selfs toe ek verkrag is, seksueel as kind gemolesteer is, in my prostituutdae en toe ek aan dwelms verslaaf was. As Hy nie by my was nie, was ek vir seker nie vandag hier nie!
God het geweet wat Hy vir my beplan en ek doen presies dit vandag. Dit was ’n geskenk wat reeds in my moederskoot vir my gegee is – ’n onderwyser (en ek is nie eers Universiteit toe nie!). Ek gee nou klasse vir rehabiliterende verslaafdes. Ek is mal oor wat ek doen – my drome bewaarheid!
Dankie vir God wat ons paaie ken! Ons kom dalk nie altyd daar uit sonder baie stry en baklei nie, maar ons eindig altyd daar waar Hy vir ons beplan het. Genade, barmhartigheid, vergifnis en onvoorwaardelike liefde maak dit ’n werklikheid!
Dis mos God wat hier werk!
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Werk God daar by jou ook?
Het jy Hom nodig?
Hy’s reeds daar!
Gebed
Dankie Vader, dat U steeds vandag nog aan die werk is in my lewe! Amen.