Dis ’n voltydse stryd
Kom ons sê dit nou maar reguit vir mekaar, om in vandag se wêreld op die regte pad te bly, is nie maklik nie. Goed, daar is van die gelukkiges vir wie dit heel maklik kom, maar vir die meeste van ons is dit ’n stryd.
Die satan weet presies waar ons elkeen se swak plek is en met ’n klein hamertjie tik hy voortdurend daarop, met die hoop dat die dam een of ander tyd sal ingee. En baie keer is dit nie sogenaamde verkeerde, “ander kant van die grens”-dinge nie.
Nee, soms is dit dinge soos: werk net harder. Spandeer net meer tyd aan jou drome. Werk net nog ’n bietjie harder vir die volgende bonus. En sonder dat ons dit besef, dryf ons weg van God, want daar is ander belangriker dinge as Hy in ons lewe.
En ja, soms is daar dinge wat sommerso saggies in jou lewe inkruip en sonder dat jy besef, raak dit oor die jare ’n verslawing en skielik sit jy met ’n probleem.
Ek wil dit weer sê: Dis is nie maklik om in die middel van die pad te stap nie. Ons raak gou kwaad en doen en sê dinge wat nie reg is nie. Ons besigheid begin druk en dan word ons later geforseer om dinge te doen wat nie eintlik die regte manier van doen is nie.
In ons huwelik en verhoudings gaan dit soms taai en ons gaan soek oplossings op verkeerde plekke en gou sit ons in ’n groot gemors. En so kan ek seker nog ‘n horde voorbeelde noem van waar ons daagliks gekonfronteer word met dinge wat nie deel is van die wêreld van die lig nie.
Waarmee sukkel jy?
Dit is nie maklik nie.
Ons moet besef dat dit moeite is, soms baie energie tap en ja, soms baklei kos om op die reguit pad te bly. 11Ons moet ons uiterste bes probeer om seker te maak dat ons vir ewig saam met God sal gaan rus. Ons moet ons beywer, ons bes probeer, alles in die stryd werp om seker te maak dat ons nie ons doel mis nie.
Dit is ’n voltydse werk. Die wêreld is soos ’n magneet wat jou die heeltyd probeer wegrokkel en afrokkel van God se pad. Ons moet dit besef. Ons moet ons hierteen staal. Ons moet planne maak. Ons moet sorg dat ons gewapen is hierteen. En as die versoekings oor die pad kom, moet ons dit met wortel en tak uit ons lewens ruk.
Ja, ons almal weet en glo met ons hele hart dat Jesus klaar ons plek in die hemel voorberei het en dat ons niks hoef te doen om die hemel in te stap nie. Dit het Jesus klaar vir ons reggekry aan die kruis.
Waarvoor ons egter moet pasop, is dat ons nie deur die wêreld verblind word en op verkeerde afdraaipaadjies klim nie. Dis ’n geveg tussen lewe en dood. Dis ’n volslae stryd. Mag God se Gees ons hierin help, want op ons eie is ons eenvoudig net te swak.
Teks
Hebreërs 4:7-11
Om oor na te dink
Waarmee sukkel jy?
Hoe kan jy maak om dit stryd te wen?
Hoe kan die Heilige Gees jou help?
Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek baie keer sukkel om nie die verkeerde keuses te maak nie. Sommer baie dae sukkel ek daarmee. Help my asseblief. In Jesus se Naam, amen.