God se Woord in vandag se woorde

Dit maak my hart erg seer


Ek het ’n vriend wat saam met my vir 6 jaar gestudeer het. Teologie gestudeer het. ’n Verskriklike aangename mens en stel in almal belang. Maar hy is nie meer in die kerk nie, inteendeel, hy glo nie meer nie.

Dit maak my hart erg seer.

Ek kan eintlik nie daaraan dink wat met hom gaan gebeur as hy die aarde moet verlaat nie. Waar sou dit dan verkeerd gegaan het? Waar het hy besluit om ’n streep te trek deur sy opleiding en eerder saam met die res van die wêreld van die regte pad af te stap?

’n Ander vriend van my was by ’n groot gemeente. Hy het baie vernuwing gebring en gehelp om die kerk op koers te kry. Hy het later ’n roeping gekry om in die buiteland die herder van ’n gemeente te wees.

Vandag is hy ook nie meer in die kerk nie. Hy moes erg seergekry het in die kerk. Hy het alle kontak verbreek, selfs met my en ek wonder wat in die toekoms in my vriend se pad lê.

Dit maak my hart erg seer.

Ek wonder wat met die mense gebeur het wat Jesus verhoor en skuldig bevind het? Ek wonder wat gebeur het met die soldate wat Jesus met die sweep geslaan het? Ek wonder wat gebeur het met die manne wat Jesus aan die kruis vasgeslaan het?

Baie mense het nie vir Jesus as die Verlosser herken of erken nie. Hulle het seker iets anders verwag. ’n Groot koning op ’n wit perd. ’n Held wat al die vyande verdryf en vir almal ’n lekker lewe sou skep.

8En: “Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.” Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees.

Dit maak my hart erg seer.

Ja, daar is mense wat nie vir Jesus as die Verlosser wil herken nie. Ek vermoed dat die lewe net te lekker is. Baie keer is dit geld wat mense keer om na Jesus te keer. Baie keer is dit hul verstand wat in die pad staan.

Dit is in die duister van die wêreld waar mense op die ou end oor die klip val. Dit is teen die rots waar hulle hul te pletter loop. Net omdat hulle nie toegelaat het dat Jesus se lig oor hulle opkom nie.

Dit maak my hart erg seer.

God s’n ook. Dit weet ek, want Sy plan was dat Jesus sterf vir die hele wêreld, sodat hulle sonde nie meer teen hulle gehou sou word nie. Dit het Jesus gedoen, maar baie mense erken nie vir Jesus as die hoeksteen van God se nuwe huis nie.

Daarom besef ek net al hoe meer watter ongelooflike groot verantwoordelikheid het ek as lewende steen in God se huis wat ingebou is langs die lewende Hoeksteen. Ek moet die wêreld gaan wys. Ek moet so lewe dat mense vir Jesus kan sien en ook sien wat hulle mis. Mag mense sien wat Jesus vir my beteken en ook begeer om sy vriend te word.

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Wat maak die verlore siele aan jou?
Wat kan jy vir hulle doen?
Hoe kan hulle Jesus se hande deur jou sien?

Gebed
Vader, dit maak my so seer om te sien hoe mense teen U kies. Help my om so te lewe dat hulle die Lig in my sien. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek