Doen dinge wat pas
Wanneer ’n mens ’n ander land besoek, kom jy gou agter hoe mense verskil. In Israel het ek die verskille gou agtergekom in hulle manier van bestuur. Jy sal dit nie glo nie, maar byna geen Israeliet gebruik ’n flikkerlig nie.
Dit is net die toeriste en ’n busbestuurder hier en daar wat ’n flikkerlig gebruik. Maar hulle gebruik weliswaar hul toeters in die oortreffende trap. Kom ek verduidelik dit na aanleiding van hul verkeersligte.
Hulle oranje ligte werk meer as ons s’n. Dit flikker voor die rooi lig verskyn en dan weer ná die rooi lig om te waarsku dat die groen lig op pad is.
As die oranje lig verskyn voor die groen lig en jy nog nie begin ry het nie, begin die ou tien karre agter jou sy toeter druk. Dan volg die res van die nege karre se toeters. Dit was heel anders om daar te bestuur en dit nog aan die ander kant van die pad ook.
Tog werk hulle verkeer. Op een of ander manier werk hulle uit waarheen die ou op pad is wat om die sirkel beweeg. Dan druk hulle eenvoudig net in as daar ’n klein gaatjie is. Om ordentlik te wil wees en iemand anders eers te laat ry, werk nie daar nie. Ek het gou geleer as jy in Israel is, moet jy oplet hoe hulle bestuur, jou oë toedruk en ry.
Ek sal ’n Israeliet op ’n myl uitken deur sy manier van bestuur. So kan ’n mens Christene mos ook uitken. Daar is sekere goeters wat ons doen wat by ons pas en sekere dinge wat ons nie moet doen nie, wat nie by ons pas nie.
Een van die eerste dinge wat ons leer as ons van die ou mens af oorstap na die nuwe mens, is om ontslae te raak van die dinge van die ou mens. Dis eintlik voor die hand liggend, want die dinge van die ou mens pas nie by die nuwe mens nie.
1Maak julle lewe skoon. Raak ontslae van slegte en oneerlike dinge.
Dit klink maklik, maar dit is nie so maklik nie. Dis asof die verkeerde dinge so deel van ’n mens geword het, dat dit te swaar is om dit uit te grawe. Dis baie keer so verweef saam met mekaar dat jy nie eers weet wat moet weg en wat moet bly nie. En in die uithaal van die verkeerde goeters bloei dit en maak seer.
Die seer help dikwels om die skewe goed uit te sny.
As jy dit uiteindelik met baie moeite en pyn uitgekry het, kom dit baie keer met maatjies terug. Die geveg raak al hoe erger en dit maak ’n mens woes moeg. Dit bly ’n voortdurende gebaklei.
Tog moet ons nie moed opgee nie. Ons moet voortdurend gaan kyk waar ons toegelaat het dat ons dinge doen wat nie heeltemal in lyn is met God se voorskrifte nie. Dan moet ons planne maak om ontslae te raak daarvan.
Laat ons seker maak dat ons in alles wat ons doen en sê 100% eerlik wees en alles wat nie hoort by ons wat kinders van God is nie, uitroei. Laat ons dinge doen wat pas, sodat mens ons op ’n myl kan uitken en weet ons is kinders van God.
Teks
1 Petrus 2:1-8
Om oor na te dink
Watter sonde kruip nog in jou weg?
Hoe kan jy ontslae raak daarvan?
Wie kan jy vra om te help?
Gebed
Vader, ek weet dat daar plekke is waar ek nie uitgeken word as ’n kind van U nie. Daar is dinge wat ek nog doen wat nie pas nie. Help my asseblief om daarvan ontslae te raak. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.