God se Woord in vandag se woorde

Doen waarvan God hou


Ek wonder of ons altyd verstaan wie Jesus regtig was. Jesus is die Seun van God. Jesus is die Uitdeler van die ewige lewe: 9Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister.

Ons rol is nie om die ewige lewe aan ander uit te deel nie. Dit is Jesus se roeping. Ons elkeen het ’n ander roeping. Tog moet ons ons bes probeer om agter Jesus aan te stap. Of anders gestel, ons moet Jesus se voorbeeld volg en doen soos Hy gedoen het, toe Hy hier op aarde was.

Die opdrag is baie eenvoudig. Ons moet net gehoorsaam wees aan God en presies dit doen wat Hy van ons verwag. Jip, dis ’n eenvoudige, verstaanbare opdrag, maar ai, hoekom is dit so moeilik om te doen?

Sukkel jy ook soms hiermee? Al te dikwels word ek wakker en besef dat ek nie gehoorsaam was aan God se opdrag nie en juis dit gedoen het waarvan ek weet God nie hou nie. Dit laat my nie lekker voel nie. Ek het al weer die pot mis gesit en die gevolge is nie so mooi nie.

Waarom is dit so ’n geswoeg om binne die lyne van God se wil te leef? Hoekom raak ons so gou kwaad? Hoekom is ons monde tog so los en sê dinge wat ander seermaak? Hoekom doen ek daardie lekker dinge wanneer ek weet dit is nie vir God lekker om my so iets te sien doen nie?

Ek sit lank en wonder wat die antwoord op die klomp vraagtekens is.

Ek vermoed dit is omdat ons eie wil nog te sterk is en die oorhand oor ons lewens het. Ons het ’n eie wil gekry, sodat ons self vir of teen God kan kies. God gee die besluit om Hom te volg, in ons eie hande.

As ons egter die keuse vir God gemaak het, moet ons besef dat ons nie meer kan lewe soos ons wil nie. Ons wil het nou sy doel gedien en moet nou na die agtergrond geskuif word. God se wil moet nou die toon aangee in ons lewe.

Dit gebeur egter nie met die klap van die vinger nie. Op ’n manier moet ons eie wil doodgaan, sodat God se wil in ons lewe kan opstaan. Dis ’n lang en moeisame proses vir die meeste van ons. Die proses is eintlik te groot vir ons om op ons eie suksesvol te implementeer.

Ons het die Heilige Gees nodig. Ons moet doelbewus meer en meer plekke in ons lewe vir Hom oopstel om in te kom. Die probleem is dat ons Hom nie inlaat by al die plekke in ons lewe nie.

Om minder te swoeg om tussen die lyne van God se wil te leef, om minder kwaad te word en ons monde meer te beheer en meer dinge te doen met positiewe gevolge, moet ons meer tyd by Jesus se voete sit. Dan sal Sy Gees ’n groter rol in ons lewens speel.

Die gevolg sal dan wees dat ons God meer gehoorsaam en nie meer doen waarvan God nie hou nie. Kom ons probeer dit sommer van nou af.

Teks
Hebreërs 5:7-10

Om oor na te dink
Waar is jy nog ongehoorsaam?
Waar doen jy dinge waarvan God nie hou nie?
Hoe kan jy meer tyd maak om by God se voete te sit?

Gebed
Onse Vader, ek sak my kop in skaamte vir my ongehoorsaamheid. Ek weet ek doen soms dinge waarvan U nie hou nie. Help my om meer binne U wil te stap. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek