God se Woord in vandag se woorde

Draai die volume knoppie sagter


Vir ’n dag of twee sit hier twee jongmense op ons rusbank. Hulle wil trou en wil weet of ons voorhuwelikse klasse met hulle sal doen. Ek en Renata doen dit graag. Dis deel van ons roeping.

Dit is lekker om weer die jong liefde te sien blom. Dis so mooi en vir seker hoe God dit bedoel het. Ons vertel hulle hoe die kursus werk, maar dan moet ’n mens ook die realiteit aankondig.

Almal wat so verlief op die bank kom sit, glo mos dat hulle nie wesenlike probleme langs die pad gaan optel nie. Maar die realiteit is dat meer as die helfte van alle paartjies in die skeihof opeindig. Dis so skokkend en dan verstaan ’n mens hoekom ons wêreld lyk soos dit lyk.

Een van die grootste drie redes hoekom mense skei, is konflik en stryery. Elkeen wil om een of ander rede sy wil en sy idee laat geld en sien nie kans om die ander een se punt in te sien nie. Elkeen moet nou sy kant wind gee en voor jy jou kom kry, bars ’n storm los.

As die emosies eers wakker gemaak is, is die stryd eintlik verlore, want die emosies laat mos nie toe dat ’n mens mooi kommunikeer nie. Daar borrel mos so iets in jou op en dan is die gort gaar en die taalgebruik nie so keurig nie en die volume-knoppie vol oop.

Dis nie reg nie. So kan ’n mens niks oplos nie. Inteendeel, net meer stof word opgeskop, sodat jy later nie meer jou eggenoot kan sien nie. Die skrywer van Hebreërs was seker ook getroud en het dalk ook by die hekkie geploeg, want hy waarsku sonder om doekies om te draai: 14Probeer julle bes om nie met ander mense te stry of te baklei nie.

Ek vermoed die eie ek is die een wat die grootste oorsaak is van bakleiery. Met die sondeval het die eie ek ook ’n groot klap weg en wil die heeltyd voor in die koor wees. Die eie ek wil hê dat sy of haar voorstelle elke keer deur die ander een aanvaar word. Die eie ek sien nie lekker die ander een se behoeftes raak nie en nog minder is daar brille daarvoor te koop.

Ons moet hierdie flaw in ons lewens raaksien en erken, want eers dán kan ons daaraan begin werk. Ek dink ons moet die hulp van die Heilige Gees inroep om aan die eie ek te help timmer.

Onthou, die Heilige Gees is ook Jesus se Gees en toe Hy hier op aarde was, het Hy nie een keer gestry of baklei nie. Hy wou nie Sy eie ek heeltyd voor laat staan nie. Hy het altyd eers gehoor wat die ander een wil sê. Hy het ander se behoeftes raakgesien. Hy het vir ander omgegee.

As ons so met ander handel, sal ons minder stry en baklei. Kyk na ander deur Jesus se oë. Hanteer hulle soos jy wil hê jy hanteer moet word. Dit sal die ander een se volumeknoppie gou sagter draai.

En onthou hierdie is nie net tot huwelike beperk nie. Dit geld vir alle verhoudings. Daar by die werk, in die gesin, by die vriende, orals moet ons ander deur Jesus se oë sien. Mag jy dit regkry!

Teks
Hebreërs 12:12-14

Om oor na te dink
Luister jy meer of moet ander meer luister na jou?
Is jy bereid om ander eerste te laat kom?
Hoe lewendig is jou eie ek?

Gebed
Here Jesus, ek wil dieselfde gesindheid as U hê. Help my om nie meer nodig te hê om al die aandag en argumente te wen nie, maar om my identiteit in U te vind en liefde te hê om uit te deel. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek