God se Woord in vandag se woorde

Draai jou maag oor jou pakkie?


Ek sit in Bargain Books se ontvangs. Ek wil graag by hulle hoor of hulle nie ook ons boeke op hulle rakke wil pak nie. Ek is effe op my senuwees. Ek is nie eintlik ’n goeie bemarker nie en sal eerder iets weggee as om iets te smous.

Waar ek sit, kan ek nie die deur sien nie, maar ek hoor duidelik elke keer as dit oopgestoot word. Dit klink na ’n groot deur. Elke keer as dit oopgemaak word, wonder ek of dit die bestuurder is met wie ek ’n afspraak het. My maag gee dan so ’n onnodige draai.

Dit laat dink my aan my skooldae. Menigte male het ek voor die deur gestaan en wag om ingelaat te word. Elke keer as die deur so oopkraak, het ek gewonder of dit nou my beurt is.
Die meeste van die kere was dit vir iets wat ek aangevang het by die vorige aand se debat of dalk was dit die taalonderwyseres wat my weer weens my steurende gedrag uit die klas gejaag het.

Wanneer ek uiteindelik ingelaat is, is nie baie gepraat nie. Ek het net gedweë my straf aanvaar en maar weer gebuk.

As ’n man weet jy is skuldig, dan is jy skuldig. Dan help dit nie om te veel te sê nie. Gewoonlik sak jy dan net nog dieper in die dryfsand in.

Soms vang ek my ook so dink en voel oor die verkeerde dinge wat ek nou nog doen, wat nie lekker in God se wil pas nie. Ek voel net so ook vir die dinge wat ek moet doen, wat ek ook nie doen nie. Soms is ek lui. Soms is ek net nie lus om uit my gemaksone te beur nie.

Dan voel ek skuldig en saam met die skuldig voel, draai my maag. Soms wonder ek wat gaan gebeur as ek die verkeerde dinge aan die doen is en Jesus daag daar op. Gaan Hy maar net Sy kop skud en omdraai en my net daar los?

Baie van ons is nog vasgeval in die Calvinistiese skuldgevoel. Dis mos as jy verkeerd doen, gaan jy êrens langs die pad moet buk.

En eintlik is dit so onnodig. Dit breek ons spoed en ek vermoed die duiwel klim saam met die skuldgevoel in die bed. Hy por ons aan. Hy gooi ’n kollig op ons verlede en vra of ons regtig goed genoeg is. Dan voel ons nog slegter en dit raak ’n bose kringloop …

Dis eintlik dom, want uit God se eie mond hoor ons hoe Hy oor ons sonde voel: 17En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.”

Ek weet nie lekker hoe God dit regkry nie, maar Hy doen dit. Watter ongelooflike seën is dit nie! Met ’n groot uitveër vee God die straf wat ons opgestapel het en dit bestaan net nie meer in Sy gedagtes nie.

Gee dit ons nou die groen lig om deur die grense te bars en in die modder te speel? Vir seker nie! Dit gee ons eerder ’n groen lig om vry te lewe. Los te lewe van enige ketting wat ons terughou. Nou kan ons werklik ons lewe gaan geniet en weet ons hoef nooit weer in ’n ry te gaan staan om ons pak te kry vir ons verkeerde dade nie!

Dankie tog!

Teks
Hebreërs 10:11-18

Om oor na te dink
Trek jy nog so nou en dan swaar aan jou sondes?
Hoe moet jy maak om daai pakkies te los?
Hoe moet jy maak om prakties vry te lewe?

Gebed
Vader, dit gaan my verstand te bowe dat U die skuld vir my sonde net so kan afskryf. Dis seker hoekom ek so sukkel om die pakkies by U te los. Ek bely al my sondes en vra dat U my sal help om dit te los en vry te lewe. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek