Duur gekoop en verhuis na ’n sinvolle plek
Die Arabiere dink darem woes groot. Hulle is besig om in die noorde van Saudi Arabi, in die nuwe Neom streek, ’n hele nuwe wêreld te bou.
The Line is ’n nuwe stad wat 9 miljoen mense sal huisves. Dit is net 200 meter breed, maar sal op die ou end 170 km lank wees. Geen paaie, geen skadelike gasse en sal 95% op hernubare krag staatmaak.
’n Tweede stad, Oxagon, word gebou waar mense, industrie en tegnologie in harmonie met die natuur gaan saamwerk. Revolusionêre fabrieke en maatskappye gaan nuwe produkte van die toekoms vir die wêreld verskaf.
Maar ’n mens kan nie net werk nie. Jy moet speel ook. Daarom word daar ’n nuwe eiland, Sindalah, in die Rooisee gebou waar die rykes in super weelde kan kerjakker. Trojena is nóg ’n vakansie bestemming wat uit die berge gekap word: Trojena will be an iconic, world-class destination, blending natural and developed landscapes – and offering unique human-centric experiences for residents and visitors alike. All to create a destination like no other on earth.
Kom ons gee die ouens dit toe – hulle gee nuwe betekenis aan groot dink. Hulle druk dit nou wraggies erg in die rooi en maak woes mooi. Dit nou in mense wêreld.
Ek wonder hoeveel al die ontwikkelings kos? Die bedrae hieraan gekoppel het te veel nulle vir my kop om te verstaan. Ek sien daar is ’n skakel indien jy wil belê in al hierdie ontwikkelings. Hulle sal seker lag as ek sê ek wil ’n paar rand stoot om te help!
God het nie nulle gebruik om ons los te koop uit ons ewige verknorsing nie. Dinge met nulle aan kan op die ou end opraak, opgevreet word of roes. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. (1983-vertaling)
Ons is oorgekoop deur Iemand wat baie meer werd is. Selfs oneindige nulle agter ’n enetjie is minder werd as die Een wat ons oorgekoop. Jesus se bloed wat gevloei het, is veel meer werd as enige iets op die aarde, veel groter as al die geld wat in Neom gespandeer word.
Met hierdie transaksie het God ons oorgekoop uit ’n bestaan wat geen sin maak nie. Dit was geheel en al sinloos en Hy het ons oorgeneem na ’n nuwe bestaan. ’n Bestaan wat wel sin maak.
Dis ’n bestaan waar ons nie hoef pa te staan vir ons sondes nie. Dis ’n nuwe bedeling, heel revolusionêr en splinternuut waar die mens nie meer swaar hoef te sleep aan die sondelas wat hyself bymekaargemaak het nie.
Verstaan jy dat jy gekoop is uit die een wêreld na ’n nuwe wêreld? Verstaan jy dat jy eers deel was van die sinlose en nou deel is van ’n lewe wat regtig sin maak? En dat dit meer gekos het as al die nulle agter ’n een in die wêreld?
Dis dan tyd dat ons by die wêreld intrek en só lewe. Jy het ongelooflike waarde en is deel van die enigste lewe wat saak maak. Leef as ’n burger van die sinvolle wêreld vandag.
Teks
1 Petrus 1:17-21
Om oor na te dink
Besef jy die waarde wat jy het?
Besef jy die waarde waarmee jy oorgekoop is?
Hoe verander dit jou manier van lewe?
Gebed
Vader, hoe lief moet U my nie hê om soveel vir my te betaal nie? Ek besef net weereens dat U sin maak in my lewe. Mag ek ’n sinvolle lewe leef. Elke dag! Amen.