DV
Ek doen eers ’n bietjie navorsing oor kragwoorde en vloekwoorde, want ek wil, kan nie anders as om een hier te gebruik nie. Ek het al ’n vorige keer een gebruik om aan te dui hoe groot die gat was toe ek ’n geliefde aan die dood moes afstaan. Op ’n mooi manier het iemand my laat weet dat die Evangelie kragtig genoeg is om nog ’n kragwoord ook te gebruik. Point taken!
Uit die navorsing sien ek dat die een wat ek nou wil gebruik darem nie as ’n vloekwoord kwalifiseer nie, maar eerder ’n kragwoord. Op gesellig.co.za sê hulle dat ’n kragwoord meestal nie so erg soos ’n vloekwoord is nie, maar steeds nie bedoel is vir beleefde geselskap nie.
Ek hoop ek sal vergewe word vir die kragwoord, maar dis vir my so ’n kostelike storie. Mari (skuilnaam) vertel:
My niggie en haar seun is op pad na hulle familie-vakansiehuis. Sy vra haar seun om gou vir oupa en ouma ’n SMS te stuur en uit te vind wanneer hulle vertrek.
Hy doen dit en toe die antwoord terugkom, vra sy hom om dit vir haar te lees.
Hy sê Oupa sê hulle ry môre-oggend “d*nners vroeg”.
Sy is baie verbaas, want haar pa vloek nooit nie. Sy vra haar seun om presies te sê wat in die SMS staan.
Hy lees hardop: “Ons vertrek môre-oggend DV.”
Wat ‘n kostelike storie oor hoe kinders ‘n woord interpreteer wat hulle nie lekker verstaan nie.
DV is die afkorting vir die Latynse woorde, Deo Volente, waar Deo verwys na Deus, wat God beteken en Volente verwys weer na vollens wat met gewillig of wil vertaal kan word. DV kan direk vertaal word na: As God dit so wil hê.
Wanneer iemand dus sê, ek sien jou môre DV daar by die koffiewinkel, beteken dit dat die persone mekaar by die koffiewinkel gaan ontmoet, indien dit God se wil is.
Daar kan soveel dinge gebeur wat die twee persone nie kan voorsien nie. Dalk raak die een siek of dalk kom daar fout met die ander persoon se vervoer na die koffiewinkel. Ag, daar is soveel faktore wat ’n spanner in die wiel kan wees.
’n Mens is net nie seker oor die dag van môre nie. Ons moet ons tekortkoming en menslikheid hier baie mooi verstaan. Ons moet erken dat ons heeltemal afhanklik is van God en net môre kan wakker word, môre by ’n afspraak kan opdaag, as dit binne God se wil is.
15Erken liewer dat die Here julle hele lewe beheer. Sê liewer: “As ons môre nog leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles maar van die Here af.”
Ons is totaal afhanklik van God se wil. Kom ons leef so en sien uit na die dag van môre en wat God vir ons wil en beplan.
Teks
Jakobus 4:13-17
Om oor na te dink
Gebruik jy DV?
Glo jy dat God jou môre bepaal?
Hoe moet jy anders dan lewe?
Gebed
Vader, dankie dat ek nie oor more hoef te bekommer nie. Help my om dit te erken deur altyd DV te gebruik, want ek is totaal afhanklik van U. In Jesus se Naam. Amen.