God se Woord in vandag se woorde

Een keer is oorgenoeg


Die skrywer van Hebreërs lui dieselfde klok aanmekaar en in ’n stadium wonder ’n mens of hy dit nie nou al genoeg gelui het nie. Oor en oor vertel hy dat Jesus se sterwe aan die kruis eens en vir altyd 100% afgereken het met die straf wat die mense verdien vir al die sondes wat hulle aanvang. Hy doen dit veral om te vertel dat die priesters van ouds se offer nie volhoubaar was nie en elke keer maar weer moes gaan offer as die mense die pad en kluts kwytgeraak het.

Jesus se offer was egter oorgenoeg. Daar is drie redes (volgens Andrie du Toit) waarom Jesus se sterwe eens en vir altyd klaargespeel het met ons sondes:

  1. Die eerste rede waarom Jesus se sterwe genoeg was om vir al die mense op aarde se sondes te sterwe, was omdat dit heeltemal God se wil was. Dit was God se plan. God het dit saam met Jesus uitgevoer en was die heeltyd saam met Jesus. Dit was ’n Goddelike plan, wat Goddelik uitgevoer is.
  2. Dan was dit ook volkome, omdat Jesus die Seun van God is. Kyk net die verskil tussen Jesus en die priesters. Die priesters staan en offer. En Jesus? Hy sit, soos wat ’n koning behoort te doen:

11Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie. 12Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit. 13Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi.

Omdat Jesus die Seun van God is, was dit net een keer nodig dat Hy Homself moes offer en daarom was die offer genoeg en volkome.

  1. Laastens was die offer van Jesus volkome, want dit was 100% effektief. Daar is nêrens ’n skuiwergat waardeur die straf van die sondes kan inkruip nie. Jesus se offer het vir eens en vir altyd klaargespeel met die impak wat sonde op die mens gehad het. Die pad na die hel is vir die wat in Jesus se verlossing glo, vir ewig en altyd toegesluit en die sleutel weggegooi.

En so sê die Woord van God: 14Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het.

Keer op keer kyk ons die afgelope tyd uit verskillende hoeke en gebruik hordes verskillende beelde om te probeer beskryf wat ek en jy uit God en Jesus en die Heilige Gees se plan ontvang. Ja, die omvang daarvan is soms te groot vir ons menslike verstandjies om regtig te verstaan. Wat ons wel hier kan weet, is dat dit nie meer nodig is om offers te bring vir ons nonsens wat ons droogmaak nie. Ons kan wel ietsie doen. Ons kan uit dankbaarheid vir die volkome offer van Jesus, dit vir ander gaan vertel. So red ons dalk net ’n lewe.

Teks
Hebreërs 10:10-18

Om oor na te dink
Hoe leef ’n mens ’n lewe van genoeg?
Wat maak Jesus se volkome offer aan jou?
Hoe leef ’n mens dit in die lewe elke dag?

Gebed
Ons Vader, U is ’n God van goeie planne. Werkbare planne. Volkome planne. Planne wat werk en genoeg is. Oorgenoeg. En dit alles vir my. Soms is dit eintlik te veel vir my om werklik te verstaan. Ek wil dit alles deel maak van my lewe en ja, ek wil ander daarvan gaan vertel. Gee my die krag en wysheid en durf. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek