Eenheid in andersheid
As ek jou moet vra om vir my ’n prentjie van God te skilder en ek bring my prentjie van hoe ek God sien en ons sit dit langs mekaar, hoeveel gaan dit ooreenstem? Dieselfde met ons prentjies van Jesus en die Heilige Gees. Sal dit soveel van mekaar verskil dat ons nie eens enige raakpunte kry nie?
Tog is daar net een God. Net een Jesus. Net een Heilige Gees: 4Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. 5Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. 6En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal.
Behalwe net een God, Jesus en Heilige Gees, is daar net een hoop, een geloof, een doop en een kerk.
Kom ons erken nou maar dat hierdie begrip nie deur almal op dieselfde manier gesien word nie. Ons kan maar net op elke dorp gaan rondkyk om te sien hoeveel verskillende sale word gebruik vir verskillende groepe Christene. In enige leë holte kom daar mense bymekaar om “hulle” God te dien en te aanbid en stap jy nader, sien jy dat die meeste van hulle dieselfde Bybel as jy gebruik.
Maar op ’n manier verstaan ek dat ons almal nie op dieselfde manier aanbid nie. Selfs in ons eie huis het ons verskillende maniere waarop ons God aanbid. My vrou hou van ’n meditatiewe diens waar daar nie veel gepraat word nie en kunsvorme gebruik word om aanbidders te lei tot aanbidding.
Vir my sal dit geensins werk nie, want my gedagtes sal na die eerste minuut op loop gaan en nooit weer die pad terugvind nie. Ek het musiek nodig. Ek het stories nodig. Ek het interessante voorbeelde nodig om my aandag vas te hou.
En tog glo ons in dieselfde God, Jesus en Heilige Gees. Ons hoop saam in dieselfde geloof, al verskil ons heeltemal. Waar lê die verskil dan? Waar kom die andersheid vandaan? Ek vermoed dit lê by onsself. Ons prentjie wat ons van God, Jesus en die Heilige Gees teken verskil en dit verskil omdat elke mens van mekaar verskil. Wanneer mense vreemd opgetree het, het my vrou se ouma altyd gesê: Die een mens is darem nie die een mens nie!
So maklik maak ons ’n opmerking oor ander wat nie so is nie. So maklik dink ons dat mense wat dinge anders doen as ons, verkeerd is. Dit is eintlik normaal. Maar eintlik moet ons meer ruimte hê vir mekaar. Die Engelse het so ’n mooi beskrywende woord wat ’n mens met mekaar se andersheid moet doen: Embrace dit. Embrace mekaar se andersheid. Gooi jou arms om ander en sê: Al doen ons dinge anders, al glo ons anders, al verstaan ons mekaar nie aldag nie, weet ons dat ons almal dieselfde God, Jesus en Heilige Gees aanbid. Ons kan mekaar omhels, al verskil ons soos die son en die maan.
Xenofobia is weer die afgelope tyd woes in ons land aan die gang. Ek maak my oë toe as die beelde van mense wat in skerwe gekap is op die skerms verskyn. Mense het nie ruimte vir mekaar nie. Mense het nie ruimte vir ander se andersheid nie. Dis nie hoe God bedoel het dit moet wees nie.
Nog ’n Engelse woord. Kom ons gaan verder as net ruimte hê. Kom ons gaan vêrder as net embrace, maar kom ons celebrate mekaar se anderste prentjies. Kom ons vier fees omdat ons almal nie dieselfde is nie, maar nog steeds dieselfde God, Jesus en Heilige Gees dien! Saam, as verskillende kinders van God, vorm ons een liggaam van Christus.
Teks:
Om oor na te dink
Verskil jy van ander?
Verskil ander van jou?
Breek die verskil af of bou dit?
Gebed
Vader, u is Vader vir elkeen wat in U Seun glo. U woon in elkeen wat in U glo. Ons almal is deel van een liggaam. Help ons om mekaar in te sluit en nie uit te sluit nie. Amen