God se Woord in vandag se woorde

Effe hand nog steeds na God


Hierdie verhaal was, nee, is nog steeds vir my aangrypend. Douw vertel:

My gesin se lewens is onherroepelik omgekeer op ‘n pragtige Sondagoggend van die Paasnaweek in 2005 naby Hopetown, toe die motor van die pad af geloop en omgeslaan het. Waar my jongste van vier dogters, op ‘n ouderdom van 18 ‘n kwadrupleeg gelaat is.

Wat ‘n traumatiese ervaring!

Sy was ‘n kranige netbalspeler vir die eerste span en was aan die begin van haar matriekjaar. Na twee weke in die hospitaal in Kimberley is sy per vliegtuig na die spinale eenheid in Kaapstad geneem. Sy is vanaf haar skouers verlam en het geen vingeraktiwiteit nie.

Na agt maande in die hospitaal was sy so swak, dat sy haar matriek met wiskunde en wetenskap in twee jaar moes voltooi. Sy kon dit doen met universiteitvrystelling. Die Universiteit van Stellenbosch het haar toegelaat, maar sy wou eintlik graag in fisiologie verder studeer. Die betrokke department het nie kans gesien om haar te akkommodeer vanweë haar gestremdheid nie.

In 2010 het ek die geleentheid gekry om in die VSA te kom werk. My vrou het die taak van voltydse versorging op haar geneem. My dogter het hier aan ‘n universiteit haar graad klaargemaak, waarna sy ook haar meestersgraad hier voltooi het. Sy behoort binne twee maande haar doktorsgraadstudie te voltooi.

Wat ek met die skrywe wil deurgee, is dat as ons as gesin nie daarin geglo het dat ons in die Here se hande is nie, ons dit nie sou kon maak nie. Eienaardig genoeg moes my dogter op die laaste dag van die Paasnaweek-vakansie ‘n opdrag vir die skool skryf oor hande. Sy het geskryf oor God se hande wat haar beskerm het na die ongeluk.

As ons terugkyk oor veral die afgelope 17 jaar na die ongeluk, kan ons die ingryping van die Here in ons lewens by soveel geleenthede sien. Ons het verskeie voorbeelde daarvan as bewyse. Hoe kan ons dan twyfel dat Hy daar is vir ons? Sy genade is oneindig groot!

Blikkies! Wat ’n ongelooflike voorbeeld van jouself oorgee in God se hande. Oorgee om die bal wat die lewe vir jou boul, vir ’n ses te slaan, al het jy net effe gebruik van een hand. Wat ’n verhaal vertel hulle gesin se lewe nie aan al ons ander nie!

10Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou.

Ons hoef nie eers so vêr terug te kyk na die manne of vroue van die ou dae nie. Sommer net hier om ons is mense wat nie net moed verloor nie, maar hulle hande stywer in God se hand druk, kom wat wil!

Mag ander eendag dieselfde van ons sê.

Teks
Jakobus 5:7-12

Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Hou jy vas aan God?
Is jou hand styf in God se hand, maak nie saak hoe jou omstandighede lyk nie?

Gebed
Vader, dankie vir voorbeelde van mense wat hul hand net stewiger in U hand druk, want soms wankel ek as die lewe die balle sommer net so gooi. Help my om so te lewe dat ek ook ’n voorbeeld is vir ander wat sukkel. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek