Ek en jy
Paulus begin die laaste hoofstuk van sy brief aan die mense in Filippense soos volg: 1Ai, broers en susters, ek verlang so na julle, want ek het julle lief. Julle maak my bly en laat my soos ’n koning voel.
Ek sit lank en tob oor die vers en ek besef dat dit ook waar is van my. Nou nie oor die mense van Filippense nie, maar oor die lesers van Kruispad. In die rekenaarwêreld praat ons van Kruispad, maar in kerktaal praat ons van Kruispad gemeentelede. En oor elkeen van die der duisende Kruispadgemeentelede is ek so bly.
Ek is so dankbaar dat God vir my, ’n krom stok, gebruik om ’n reguit hou te slaan. Deo Gloria.
’n Tydjie terug breek die storie van my lewe vir my oop. Ek was nie op my pa-hulle se gesinsbeplanningsprogram nie. Na die vyfde kind se geboorte is my moeder gesteriliseer. Ek is egter presies 365 dae na my jongste suster gebore. Dit was vir my wonderlik om te besef dat God al daar, ten spyte van my ouers se beplanning en dokters se probeerslae, iemand in gedagte gehad het om sy kinders in die 21ste eeu via skerms te bedien.
Sjoe, ek voel klein en my oë lek!
Ja, ek voel soos ’n koning en kan eintlik nie glo dat God my gebruik nie. Dis so ’n groot voorreg om namens God sy Woord in vandag se woorde te bring. Dit was my droom van kleins af en vandag het ek die voorreg om my droom te leef.
In die tweede gedeelte van vers 1 draai hy weg van homself en spreek sy verlange oor die lesers uit: 1…Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het.
En dit is ook my verlange dat elke Kruispadleser getrou op die pad sal bly wat God aan ons wys.
Ek weet dit is nie maklik daar buite in die wêreld nie. Dit voel vir my of daar letterlik om elke hoek en draai ’n krisis wag om te gebeur. Ons beur met alles in ons om net deur die maand te kom en as ons weer sien, staan nog ’n krisis en lui die klokkie by die voordeur.
Dit raas. Dit raas woes.
En dan is dit nie maklik om God se stem te hoor nie. Dis nie maklik om te weet wat ons in elke situasie moet doen dit nie. Dit is nog moeiliker om te weet presies watter pad ons moet vat.
Daarom wens, hoop, droom en bid ek dat jy sal stil word elke dag, voor die wêreld te veel raas, om by God uit te kom. Dat jy ’n intieme verhouding met God op die been sal kry, sodat jy die pad wat God vir jou dag en jou lewe wys sal hoor en sal sien.
Mag dit waar wees vir my en vir jou lewe. Ek bid dit – nou en vir altyd. Amen!
Om oor na te dink
Lewe jy jou droom?
Is jy op God se pad?
Raak jy genoeg stil?
Gebed
O Vader, hoeveel keer het ek nie die verkeerde afdraai geneem nie. Hoeveel keer het ek al gepleit vir die regte aanwysings. Ek weet dis dalk ek wat nie genoeg stil word nie. Ek moet ’n paar aanpassing maak. Help my asseblief! Amen.