Ek glo, maar soms sukkel ek
Daar is tye in my lewe wanneer ek sukkel om te glo. Sê nou maar net God bestaan nie. Sê nou maar net ons gaan eendag dood en daar gebeur niks nie. Daar is nie ’n hemel nie. Daar is nie ’n lewe hierna nie. Ja, soms kom maak twyfel ’n draai by my en kom slaan so vir ’n wyle tent in my kop op.
Dit gebeur wanneer ek om my kyk en so baie swaar en seer sien. Hoe kan die mens so mors? Dit gebeur as ek luister na mense wat baie slim klink en lag en stories spin dat daar nie ’n Hoër wese as die mens is nie. Eintlik is ons God.
Vir ’n wyle betrap ek myself dan dat ek wonder: Sê nou maar net…
Dan wil ek moedeloos word en in ’n hopie in die hoek gaan sit.
Gelukkig was God nog keer op keer getrou om my daar uit die gat te kom haal. Bewustelik sê ek dan sommer kliphard: 6Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. Ons moet dit vir mekaar sê. Ons moet sê dat ons nog in ’n onvolmaakte wêreld lewe. Die duiwel en sy trawante is nog hard aan die spook om veld te wen. Dis ’n stryd man! En hulle sal alle tricks uit die hoed haal om verwoesting te saai. Ons moet net nie toelaat dat dit ons onderkry nie.
Nee, ons moet met alles wat ons kan glo dat God nog in beheer is. Ons moet vashou aan die belofte dat God vir ons daar by die wag. Gryp met jou hande en hou vas. Byt met jou tande en klou: 7Ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. 8Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. 9Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld.
Al lyk die omstandighede asof God nie bestaan nie, al kom die mense met nog ’n nuwe storie om te bewys dat God net ’n sprokie is, moet ons saam met die Bybelskrywers en mede–gelowiges opstaan en sê: Ons glo. Ons glo dat Jesus opgestaan het en opgevaar het na die hemel en vandag nog aan God se regterkant sit. Ja, ek kan nie alles verklaar nie, maar ek weet in my hart dat dit waar is. Ek glo dit met my hele hart.
Wanneer ons weer ons geloof bevestig, moet ons ons energie gebruik om presies uit te vind hoe God wil hê ons moet lewe en wat ons moet doen. Dit is ook hier waar ons die wil van God doen, waar ons geloof in Hom sterker word. Jy sien, wanneer ons meer tyd met God deurbring, ervaar ons God meer kragdadig in ons lewens en wanneer ons God ervaar, versterk dit weer ons geloof.
Kom ons gaan die dag in en glo saam met Paulus en die mense van Korinte dat God vir ons elkeen wat in Hom glo, ’n plekkie in die hemel gereed het. Kom ons glo met ons hele hart dat Hy vir ons elkeen ’n spesiale plan hier op aarde het. Kom ons soek na Sy wil vir ons vir die dag en kom ons gaan leef dit elkeen uit. Die wêreld sal anders lyk!
Om oor na te dink
Twyfel jy soms?
Glo jy in God se bestaan?
Doen jy God se wil?
Gebed
Vader, ek vra om verskoning dat ek soms twyfel in U bestaan. Ek weet tog dat U bestaan. Ek weet van U groot liefde vir ons. Ja, ek glo. Daarom wil ek dit nou gaan wys deur in U wil te lewe. Elke oomblik van die dag. Amen