God se Woord in vandag se woorde

Ek glo – Romeine 4:1-12


Ek-gloKliek hier om die teks te lees: Romeine 4:1-12

3Die Bybel sê immers: “Abraham het in God geglo. Daarom was sy saak met God in orde.”

En dit brand in my om my geloof kliphard te bely:

Ek glo in God

Ek glo dat God, nog voor my pa en ma ’n gedagte van my gehad het, my al in Sy groter prentjie gesien het.

Ek glo dat God alles gemaak het, ván al die groot sterrestelsels wat ons nog nie eers alles ontdek het nie, tot by die kleinste ou wurmpie en ek weet dit is God wat vir hulle sorg. Hy hou die son en die maan en die aarde in sy hand en sorg dat die reën val – op sy tyd.

Ek glo in God se liefde – anders was ons nie meer hier nie. Dit is net ’n verskriklike groot hoop liefde wat toelaat dat God ons nog nie soos miere doodgedruk het nie. En die grootste voorbeeld van die liefde van God? God stuur sy Seun om vir my sondes aan ’n houtkruis te kom sterf!

Ek verstaan nie alles van God nie, maar juis daarom bly Hy God.

Ek glo in Jesus Christus

Ek glo dat Jesus Christus God se seun is, maar meer nog. Ek glo dat Jesus ook God is.

Ek glo dat Josef en Maria nie voor die huwelik intiem was nie.

Ek glo dat Jesus voor die tempel in die stof gesit en speel het en gehoor het hoe warra warra die mense oor God en sy dinge. Ek sien hoe die verbasing oor die kerkmense se gesigte kom as hulle die jong seuntjies oor sy Pa hoor praat. Ek kan sien hoe hulle warm onder die kraag word.

Ek glo dat Jesus amper 2000 jaar gelede hier op aarde gewandel het en sy twaalf dissipels touwys gemaak het. Ek glo dat Jesus al die wonderwerke gedoen het, selfs die klomp mense wat Hy kos gegee het met ’n paar vissies en brode. Ek glo ook dat daar baie oor was.

En die grootste vir my: Ek glo dat Christus vir al my sondes aan die kruis gesterf het. Sy bloed het al my skuldbriefies aan die kruis uitgevee en juis daarom hoef ek nie ’n hoop skuld en bagasie saam met my rond te sleep nie. Weens Jesus is ek vry!

Ek glo dat Jesus opgestaan het uit die donkere doderyk en die bose ’n bloedneus gegee het.

Ek glo dat Jesus lewendig opgevaar het na die hemel en onder andere ook aan God se regterkant sit.

Ja! Vir seker!

Ek glo in die Heilige Gees

Ek glo dat God ’n stukkie van sy Gees in my losgelaat het.

Ek glo dat die Heilige Gees my lei. Hy is ’n Leier, ’n Vriend, ’n Onderwyser en ’n Vertrooster.

Ek glo dat die Heilige Gees saggies “praat” en dat ek sensitief moet wees om Hom te “hoor.” Praat en hoor is in aanhalingstekens, want ek het die Gees nog nooit in ’n hoorbare stem hoor praat nie. Sommige het al, maar ek word op ’n manier êrens hier in my gedagtes (as ek dit regkry om vir ’n slaggie af te gear en stil te sit!) gelei om te weet wat reg en wat verkeerd is.

Ek glo in genade

Ek glo in genade wat verniet te koop is. As dit nie vir God se groot genadige hand was nie, het ons mense nie ’n kans gehad om by die hemel in te stap nie. God loop oor van genade. God kan nie ophou om die mens oor en oor sommer net so te seën nie.

Ek glo in engele

Ek glo dat hier kort bo my kop, engele is. Ek glo dat hulle op ’n wonderbaarlike manier help om my te beskerm. Ek weet ek gaan eendag bo in die hemel sit en na die DVD van my lewe kyk en my mond gaan oophang as ek sien hoeveel keer ek nie oor die afgrond sou stort as dit nie was vir God se engele oral om my nie.

Ek glo in die Woord van God

Ek glo dat God in mense gewerk het om sy woorde oor jare mondelings oor te dra en dat dit later in een boek, die Bybel, saamgevat is.

Ek glo regtig dat God se Woord my lamp en lig is vir elke tree wat ek daar buite moet gee. Sonder die Woord van God in my lewe, is ek soos ’n afkop hoender. Dan het ek geen idee hoe om die lewe te speel nie.

Ek glo dat God se Woord vir elke mens elke dag leiding kan gee, nooit oudtyds of op sal raak nie. God se Woord is dinamies en ek het soveel respek daarvoor.

Ek glo in gebed

Ek kan nie anders as om in gebed te glo nie. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar God hoor elke gebed wat van sy kinders af opgaan. Maar Hy hoor nie net nie, Hy doen ook. God verhoor vandag nog gebede.

Ek glo dat gebed ’n gesprek is met die Almagtige God en dat ’n mens op heilige grond beweeg. Dit is ’n tweegesprek, waar een nie die gesprek moet oordonder nie. Hiermee sukkel ek.

Ek glo in my eie wil

Ek glo dat God vir my my eie wil gegee het. Ek glo nie dat ek ’n rathefboom in God se hand is en dat God my in eerste sit en daar hou totdat Hy dink dit is tyd vir oorsit na tweede nie. Nee, ek besluit met my eie wil.

Ek glo dat my eie wil soms wegbeur van God af en ek sonde doen. Wanneer dit gebeur, en dit is meer gereeld as soms, dan gryp ek terug na punt 3: Ek glo in Jesus Christus!

Ek glo in die “vriende van Jesus” groep

Ek glo in die “vriende van Jesus” groep. Ek glo dat ek ’n hoop (Golgota) bloedbroers en -susters gekry het toe ek weer gebore is in God se familie.

Ek glo vas dat ons daar moet wees vir mekaar om mekaar te ondersteun in moeilike tye, om saam met mekaar te lag en te kuier, maar ook die vrymoedigheid moet hê om mekaar so nou en dan oor die vingers te tik. Ons het dit sekerlik nodig.

Ek glo in die kerk

Eintlik jok ek effe hier, want ek glo nie heeltemal in die kerk soos ek haar vandag sien nie. Ek glo eerder in ’n kerk wat alleenlik opgemaak word deur mense en nie geboue nie. Die gebou, met of sonder ’n kruis, met of sonder ’n orrel, met of sonder ’n kansel is maar net die hub waar die kinders van God bymekaarkom om God te aanbid, mekaar te help/ondersteun/onderrig en van daar weer aangespoor word om ’n verskil in die lewe te gaan maak.

Ek glo dat die kerk die geskenk van God aan die mense in die gutters van die wêreld is.

Ek glo in my roeping

Omdat ek op ’n manier begryp wat God vir my gedoen het, ómdat Jesus vir my aan die kruis gesterf het, ómdat ’n stukkie van God se Gees in my woon, kan ek nie anders as om iets te begin doen nie.

Ek glo dat God my hier geroep het. Ek hoef nie alles te verkoop en in diepe donker Afrika onder ’n boom uit ’n ou groen Fleetline kombi sondagskool te gee nie.

Ek glo dat God my ’n klomp gawes gegee het om by die huis, by die werk, tussen my vriende en teenoor die vreemdeling wat so nou en dan oor my pad gestrompel kom, ’n verskil te maak.

Ek glo ek gaan eendag hemel toe.

Ek glo ek gaan eendag hemel toe, nie omdat ek goeie dade gedoen het nie, maar net omdat Jesus vir my die hekke van die hemel oop gesterf het!

So ja!

Om oor na te dink

Waarin glo jy?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek